Geen borg vir vrou wat munisipaliteit glo met meer as R400 000 bedrieg
Die saak is uitgestel tot 23 Junie vir verdere ondersoek.
Janitha van Reenen Coetzee (25) wat tereg staan op ’n klag van bedrog van nagenoeg R424 000 by die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, is Maandag borgtog geweier in die Vanderbijlparkse landdroshof.
Na bewering het Van Reenen Coetzee haarself voorgedoen as ’n onafhanklike agent wat inwoners kon help om afslag op uitstaande munisipale rekeninge te kry. Slagoffers sou glo geld aan haar oorhandig om afslagbetalings namens hulle aan die munisipaliteit te maak. Die fondse is egter na bewering nooit aan die munisipaliteit oorbetaal nie.
Die beskuldigde het glo ook eise namens die slagoffers by die munisipaliteit ingedien.
Daar word verder beweer dat die munisipaliteit ’n totale bedrag van ongeveer R424 000 aan die beskuldigde uitbetaal het, wat nooit aan die bedoelde begunstigdes oorbetaal is nie.
Die beweerde bedrog het aan die lig gekom toe die destydse Finansiële Beampte van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, Martha Mani Rantsofu, wat sedertdien oorlede is, verdagte eise ter waarde van R424 000 geïdentifiseer en die saak aan haar bestuurder gerapporteer het. Ná ’n interne ondersoek deur die munisipaliteit is die saak by die polisie aangemeld.
Van Reenen Coetzee is op 20 Mei in hegtenis geneem en het daarna in die Vanderbijlpark landdroshof verskyn, waar sy om borgtog aansoek gedoen het.
Die Staat, verteenwoordig deur aanklaer Moses Raditsela, het die borgtogaansoek teengestaan en aangevoer dat die beskuldigde waarskynlik met staatsgetuies sou inmeng en ’n vlugrisiko inhou, aangesien haar woonadres nie behoorlik geverifieer kon word nie. Die Staat het verder aangevoer dat haar vrylating nie in die belang van geregtigheid sou wees nie.
In sy uitspraak het Landdros Mamburu met die Staat se voorleggings saamgestem en bevind dat dit nie in die belang van geregtigheid sou wees om die beskuldigde op borgtog vry te laat nie. Borgtog is gevolglik geweier.



