Die Openbare Beskermer (OB) het pas regstellende stappe aangekondig wat bepaal dat die Vrystaatse premier, mnr. Ace Magashule ‘n provinsiale beleid moet ontwikkel ten opsigte van die skeiding van die provinsiale regering en party.
Die VF Plus het die aankondiging verwelkom maar sê hy is nie oortuig dat hierdie voorgestelde beleid die ANC sal keer om in die toekoms staatsorgane en -hulpbronne te misbruik vir eie gewin nie.
Hoewel die OB bevind het dat daar geen konkrete bewyse bestaan dat die Vrystaatse regering staatsfondse vir die ANC se verkiesingsveldtog aangewend het nie, het sy dit duidelik gemaak dat daar wel verwarring tussen die staat en die ANC ontstaan het, dat die ANC onregverdig bevoordeel is deur gratis advertering en dat ander politieke partye daardeur benadeel is.
Die VF Plus sê nou hy is oortuig daarvan dat die verwarring van regering en party baie wyer as die ondersoek oor die Hlasela-veldtog strek en dat veral die premier se departement niks anders as ‘n reklamemasjien van die ANC geword het nie.
Die OB se verslag oor die moontlike ongerymdhede met betrekking tot die Hlasela-veldtog is nog nie gefinaliseer nie. Dit is dus moontlik dat die besteding aan die Hlasela-veldtog wel ongerymd was. Die VF Plus het gevra dat hierdie ondersoek so gou moontik voor die komende plaaslike regeringsverkiesing gefinaliseer moet word.
“Dit is onaanvaarbaar dat die regerende party onregverdig bevoordeel word deur staatsorgane en -projekte. Suid-Afrika sal nooit ‘n ware volwasse demokrasie word indien hierdie verwarring tussen die staat en party toegelaat word nie.”



