Pak eksamenstres jou – hier’s raad
Oor ’n paar weke is dit vir leerlinge en studente weer eksamentyd. En wie ken nie die gevoel van ’n maag wat op ’n knop trek van eksamenkoors en senuwees? Die rede - dikwels omdat studente en leerlinge nie weet hoe om te leer nie en die tyd hulle begin inhaal.

Oor ’n paar weke is dit vir leerlinge en studente weer eksamentyd. En wie ken nie die gevoel van ’n maag wat op ’n knop trek van eksamenkoors en senuwees? Die rede – dikwels omdat studente en leerlinge nie weet hoe om te leer nie en die tyd hulle begin inhaal.
Maar die goeie nuus is dat alles waarskynlik nie vir jou verlore is nie. Lees wat skryf kenners oor die valstrikke vir studeer en presies hoe ’n mens die nodige kennis in jou kop kan kry.
1. “Ek weet nie waar om te begin nie’’
Kry beheer oor die situasie. Kry jou prioriteite reg! Maak ’n lys van wat jy moet doen en verdeel dit in take volgens prioriteit.
2. “Ek het so baie om te leer . . . en die tyd is so min’’
Kyk na die vak se leerplan, handboeke en notas. Bepaal wat die belangrikste onderwerpe is en watter dele van die werk jy steeds nie begryp nie. Só ’n vooruitskouing spaar tyd, help jou om te organiseer en op die hoofonderwerpe te fokus. Pas dit aan by jou eie styl en leerwerk.
3. “Hierdie goed is so droog, ek kan nie eens wakker bly terwyl ek dit lees nie’’
Raak aktief betrokke by die teks terwyl jy dit lees. Vra jouself af: “Wat is belangrik om te onthou van hierdie gedeelte?’’ Maak notas of onderstreep sleutelkonsepte. Bespreek leerwerk met ander leerders in jou klas.
Lees, Herkou, Opsê en Hersien werk uitstekend. (In Engels word dit kortweg die PQ4R-metode genoem — vir Preview, Question en vier woorde wat almal met ’n “r’’ begin: Read, Reflect, Recite, Review.)
Lees eers vlugtig die hele hoofstuk sodat jy ’n oorsigtelike beeld daarvan kan kry. Stel dan vir jouself sekere vrae waarop jy gaan konsentreer terwyl jy studeer, byvoorbeeld: “Hoe werk fotosintese?’’
Lees nou weer die hoofstuk aandagtig. Wanneer jy klaar is, dink wat jy gelees het en “herkou’’ dit. Dink hoe die hoofstuk jou vrae beantwoord het. Sê die antwoorde vir jouself op en verduidelik die inligting in jou eie woorde.
Uiteindelik gaan jy terug na die boek toe en blaailees jy weer deur die hoofstuk om die hoofpunte te bepaal.
4. “Ek lees dit oor en oor, maar kan dit om die dood nie in my kop kry nie’’
Een manier om lang lyste inligting te onthou is om die eerste letters van die belangrike woorde op die lys te neem en ’n sin daarvan te maak – hoe snaakser of absurder die sin hoe beter!
Jy kan ook leer om geheuekaarte saam te stel. Skryf die naam van ’n onderwerp in ’n vierkant in die middel van ’n bladsy en teken takke wat daaruit spruit waarin jy dan die besonderhede van jou leerwerk skryf. Hierdie metode stem ooreen met die manier waarop die brein inligting verwerk, en die stof word makliker onthou omdat dit baie visueel is.
Trouens, jy kan vind dat diagramme of tekeninge van jou leerwerk makliker in jou geheue bly steek as bladsy en bladsye vol notas.
Nog ’n visuele metode is om jou te verbeel dat jy byvoorbeeld in jou tuin rondstap waar jy die verskillende voorwerpe op jou roete verbind met die feite in jou leerwerk.
Vir ’n volgende afdeling in die leerwerk gebruik jy ’n heeltemal ander geografiese roete, byvoorbeeld die pad van jou huis af na die naaste kafee, met al die bakens tussenin, wat dan weer “kapstokke’’ word waaraan jy nuwe feite hang.
In die eksamensaal loop jy eenvoudig in jou gedagte terug op jou roete en onthou jy alles wat onder elke boom, langs elke struik en, sê, onderaan die lelie met die verlepte blare “gebeur’’ het.
Jy kan selfs verskillende leermetodes vir verskillende afdelings van jou leerwerk aanwend. Dié soort afwisseling kan help om die eenselwigheid — wat jy dalk as eentonigheid kan ervaar — te verbreek.
5. “Ek skat ek ken dit”
Moenie bloot “skat’’ nie – toets jouself. Sê elke afdeling van die werk wat jy geleer het, hardop vir jouself op en wanneer jy oor enigiets twyfel, raadpleeg net weer vlugtig jou diagram of handboek. Doen dit oor en oor en oor totdat jy dit vlot ken en glad nie meer nodig het na die papiere te kyk nie. En kom later, byvoorbeeld die volgende dag, terug na die betrokke afdeling en “resiteer’’ dit nog ’n keer vir jouself.
Probeer onthou wat die onderwyser te sê gehad het oor sleutelafdelings in jou leerwerk en wat hy of sy daarin benadruk het.
6. “Daar’s hopeloos te veel wat ek moet onthou’’
Organiseer. Onthou weer inligting word des te beter in jou geheue bewaar as dit in georganiseerde raamwerk aangebied word waaruit jy dit stelselmatig met jou brein kan onttrek.
Maak opsommings van die hoofstukke en lê klem op die verband tussen die verskillende afdelings in jou leerwerk. Groepeer inligting waar moontlik in kategorieë of hiëragieë.
Om terug kom tot die beproefde geheuekaart-metode: gestel jy probeer die oorsake van die Eerste Wëreldoorlog leer. Horisontaal oor die boonste deel van jou kaart kan jy die name skryf van die vernaamste lande wat by die oorlog betrokke was.
Aan die linkerkant skryf jy nou belangrike kwessies en gebeurtenisse onder mekaar neer. Daarnaas, in vierkantjies onder die verskillende lande, kan jy die impak beskryf wat elke kwessie op elke land gehad het. Op dié manier kan jy die ingewikkelde geskiedkundige ontwikkelings soveel makliker in jou geheue vaslê.
7. “Ek het dit ’n minuut gelede nog geken’’
’n Mens kan dit nie genoeg beklemtoon nie: hersien, hersien en hou aan om te hersien.
8. “Maar ek hou daarvan om te leer terwyl ek op my bed lê’’
Dis nie net ’n lui manier van studeer nie, dis boonop gevaarlik. Navorsers het ook vasgestel dat die plek voor jou tuislessenaar (of ’n tafel dan) strate beter is as enige ander studieplek.
Inligting word makliker onthou wanneer die omstandighede waarin ’n mens dit ingeneem het (dit geld die fisiese plek asook jou verstandelike, emosionele en fisieke gesteldheid) soortgelyk is aan dié in die eksamenlokaal. Hoe meer die omstandighede ooreenstem des te groter is die moontlikheid dat jy die leerwerk tydens die eksamen uit jou geheue sal kan oproep.
9. “Ek leer die heel beste in die uur of twee voordat ek eksamen moet gaan skryf’’
Om dan nog te wil leer, kan beteken jy dat bang is oor werk wat jy steeds nie ken nie en die kans is eintlik goed dat jy jouself nou verder deurmekaar kan maak. Boonop beteken dit dat jy jou brein twee uur lank sal inspan plus nog miskien drie uur in die eksamenlokaal vyf uur lank ononderbroke. Pleks dat jy uitgerus met die vraestel begin, is jy klaar suwwerig wanneer jy die eksamensaal binneloop.
Daarom is dit so belangrik om eintlik die hele jaar deur daagliks hersiening te doen van dit wat jy in die klas geleer het.
Kortom, ’n mens onthou die beste wanneer jou leertyd oor ’n tydperk versprei is.
Maar natuurlik is studeer vir die eksamen meer intensief as in die res van die jaar. Begin dus met ’n uur of twee per dag sowat ’n week voor die eksamen en vermeerder jou studietyd namate die eksamen nader kom.
10. “Ek gaan die hele nag wakker bly totdat ek hierdie stuk werk ken’’
Vermy verstandelike uitputting. Rus kort-kort vir kort rukkies terwyl jy studeer. Jou verstand moet uitgerus wees voordat jy eksamen skryf.
Dit is baie belangrik dat jy jouself voor ’n eksamen goed moet versorg! Eet goed, slaap goed en kry genoeg oefening.



