
Parys Kunste Korps se uitstalling by die Potchefstroom Museum Galery is reeds baie goed ondersteun. Die uitstalling is verlede week deur prof. John Botha, dosent in Kunsgeskiedenis aan die NWU, geopen.
Prof. Botha was baie beïndruk met die hoë gehalte werke by die uitstalling. Hy is baie positief oor die konsep van die Parys Kunste Korps – nie net wat betref die hoë standaarde nie, maar ook samewerking en ondersteuning van medekunstenaars om mekaar as ʼn groep te mentor en te ondersteun en om eerder as ʼn groep, groot uitstallings soos hiérdie aan te pak. Hy het al die kunstenaars gekomplimenteer en van hul beste werk uitgelig en bespreek.
Parys en een van die land se beste kunstenaars, die befaamde Hennie Kruger, het hom ook aangenaam verras met ʼn fenomenale nuwe reeks werke uit Hennie se kwas.
Die gaste is daarna toegelaat om op hul tyd die werke te verken met die musiek van saksofoonspeler Chris Saxo in die agtergrond, lekker geselskap en ʼn glasie rooiwyn in die hand.
Daar was goeie verkope en die Kunste Korps is reeds deur die galery genader om hierdie ʼn jaarlikse instelling te maak.
Die uitstalling is beskikbaar vir besigtiging by die Potchefstroom Museum Galery, Sol Plaatjiestraat 38, tot 26 September. Die galery se ure is Maandag tot Vrydag van 09:00 tot 17:00, Saterdae 09:00 tot 13:00 en Sondae 15:30 tot 17:00.