
Terwyl oewereienaars, mense in die toerismebedryf, inwoners en verskeie ander rolspelers soek na antwoorde oor wie verantwoording gaan doen vir die toestand van die Vaalrivier, loop nog riool in die Vaalrivier in.
Dit terwyl dosyne visse vrek, voëls en ander waterlewe oënskynlik reeds geaffekteer word, en skuim op die water gesien word na berigte van erge rioolbesoedeling van die rivier, onder meer ook deur Emfuleni.
Vanoggend het dit bekend geword dat rioolwater direk in die Vaalrivier inloop as gevolg van ‘n pyplek tussen die Parys-rioolwerke en die rivierpompstasie. Lugfoto-bewyse hiervan is met ‘n hommeltuig geneem.
Volgens die foto’s lyk dit of dit reeds ‘n geruime tyd aangaan. Gazette het vanoggend die Ngwathe bestuur verwittig wat kort daarna bevestig het dat ‘n kontrakteur aangestel is om die probleem reg te stel. Teen vanmiddag was daar werkers wat gewerk het aan die lek, maar was dit teen laatmiddag volgens inligting klaarblyklik nog nie gestop nie, en is die vrees dat riool steeds hier in die rivier kan loop.
Gazette het vroeër ook rapporteer oor die Mbeki en Tokoloho rioolpompstasies wat nie gefunksioneer het nie, asook mangate soos by die Sandgat wat gereeld oorloop.
Waterwese is bewus van die probleem en het Maandag na Gazette se navrae verteenwoordigers uitgestuur om watermonsters van die rivier te neem. Die uitslae is oënskynlik nog nie bekend nie.
Dit is ook nie die eerste keer dat Ngwathe soos ander munisipaliteite hulle skuldig maak aan rioolbesoedeling van die rivier nie.
Die foto’s is agter die rioolwerke geneem: Foto’s: Johan Smit.
Die Vaalrivier word gesien as ‘n nasionale waterbron en moet besoedeling soos hierdie en wie verantwoordelik is daarvoor, deur Waterwese en spesifiek hul Besoedelingsafdeling aangespreek word.
Fezile Dabi se gesondheidsafdeling doen wel watermonitering van die drinkwater by die watersuiweringswerke, en word die uitslae aan die watervoorsiener wat in die geval die munisipaliteit is, deurgegee.
Waterwese bly egter die waghond-liggaam wat moet optree sou dit nodig wees en sê waterwese dat hulle net kan optree as die oorsaak van die visvrektes bekend is.
Die laaste toetsuitslae wat by die Waterwerke gedoen is, en wat aan Gazette bekend is, het ‘n o e-coli en bakteriële telling getoon.
Terwyl die Emfuleni munisipaliteit ‘n groot rol gespeel het in die rioolbesoedeling, blyk dit dat ook daar steeds Maandag klagtes was van rioolbesoedeling by Vereeniging.
Baie beloftes, baie planne, maar nog weinig onmiddellike aksie.
Intussen vrek al meer visse en word daagliks nog foto’s geplaas van dooie moddervisse en geelbekke in die Vaalrivier.