
Dit is bykans onmoontlik vir die Ngwathe munisipaliteit om te voeldoen aan wetlike vereistes rakende sy stortingsterreine, weens ‘n beperkte begroting.
Die skokkende waarheid oor die munisipale stortingsterreine veral in Parys en Heilbron, is uitgewys tydens samesprekings tussen die munisipaliteit en AfriForum-lede op 16 Augustus.
Die ontmoeting het gevolg nadat AfriForum vroeër ‘n aksie geloods het toe daar met emmers stinkende rivierwater en dooie visse by die munisipale kantore opgedaag is. Die groep AfriForum-lede is toegang tot die munisipale gebou geweier, maar daar is toe ooreengekom dat die twee partye op 16 Augustus sou ontmoet, sodat AfriForum se Parys-tak klagtes uit die gemeenskap oor die swak drinkwatergehalte en die toestand van die Vaalrivier, direk aan die munisipale bestuur kan voorlê.
Kannemeyer het tydens die samesprekings met AfriForum erken dat daar watervoorsieningsprobleme in Parys is, en dat die drinkwater nie voldoen aan bloudruppelstandaard nie.
Hy beweer egter dat die situasie oor die laaste ses maande verbeter het.
Die munisipaliteit het sy hoop uitgespreek dat ʼn 18-maande-ooreenkoms met Rand Water daartoe sal lei dat die werking van die dorp se rioolwerke sal verbeter.
Die munisipaliteit is deur AfriForum versoek om sy kommunikasiekanaal met die gemeenskap te verbeter sodat inwoners ingelig kan word oor wanneer daar probleme sou wees met die drinkwater gehalte, of waar daar watervoorsieningsprobleme sou wees.
Die AfriForum-takbestuur sowel as munisipale amptenare het voorstelle gemaak oor hoe hierdie probleme beter aangepak kan word in die toekoms, en die tak het onderneem om klagtes rakende riool en water direk aan die verantwoordelike amptenare te rapporteer.
AfriForum se Parys-tak het ingestem om te registreer as ʼn belangegroep om sodoende beter insae te hê tot die munisipaliteit se begroting en Geïntegreerde Ontwikkelingspanprosesse in die toekoms.
AfriForum is intussen baie bekommerd oor die uitslae van laboratoriumtoetse op monsters wat geneem is by die uitvloei van Parys se waterwerke. Die uitslae is ontvang op 17 Augustus en wys ʼn E. coli-telling van >8 000, wat ver bo die toegelate limiet van 1 000 is.



