
’n Positiewe gesindheid, gewillige hande en net ‘n uur van jou tyd, is môre, Saterdag 1 September nodig om die parkie in Eerstelaan skoon te maak. Die skoonmaakprojek is verlede Saterdag begin na die inisiatief van ‘n Parys-egpaar, Jan en Ann Bester.
Die projek word elke Saterdag gedoen om die parke, strate en oop velde in die dorp skoon te maak.
Vir die wat help is daar geen vergoeding nie, net die wete dat jy dit vrywillig vir jouself en jou gemeenskap doen om daadwerklik ’n verskil te maak. Daar word self gewerk en self die vullis weggery.
Die Besters glo as elkeen in Parys help deur klein te begin, daar iets daadwerkliks gedoen kan word om Parys reg te ruk.
Dankie aan almal wat reeds verlede naweek gehelp het. Onthou Saterdag 08:00 by die parkie in Eerstelaan. Bring net ’n vullissak, handskoene, ’n uur van jou tyd, en as jy ’n petrol kantsnyer het, bring dit ook saam.
Inwoners se stem word ook gevra om te hoor of die speelapparaat in die Eerstelaan parkie eerder verwyder en reggemaak en geskenk moet word aan ’n plek waar dit beter benut kan word.
Jy kan “ja” stem vir die verwydering, of “nee” stem as die apparaat in die park moet bly deur die Gazette-kantoor te skakel by (056) 817 2267 gedurende kantoorure of op die Gazette se Facebookblad jou stem te gee.




