Skokkende syfers is deur die minister van polisie, Bheki Cele, bekendgemaak waarin gesê word hoedat honderde polisiebeamptes hul werk verloor het weens hul betrokkenheid en skuldigbevinding aan misdaad.
So is 78 polisiebeamptes die afgelope vyf jaar skuldig bevind aan moord en 29 aan verkragting. Hulle het almal hul werk verloor.
Nog 1 172 polisielede het hul werk verloor omdat hulle betrokke was by ernstige misdade, waaronder 18 gevalle van ontvoering, 15 van roof, 45 van gewapende roof, 10 van afpersing, 60 van aanranding, 10 van omkopery, vyf van huisbraak, 13 van motorkaping, 24 vir handel in dagga en 14 gevalle van seksuele teistering.
Hierbenewens het Cele gesê is 230 polisiebeamptes afgedank as gevolg van korrupsie, 191 vir diefstal, 93 vir bedrog, 97 vir regsverydeling en 23 omdat hulle nie ‘n wettige opdrag uitgevoer het nie.
Drie is afgedank weens rassisme, 14 omdat hulle ‘n ontsnapte gehelp het, 71 omdat hulle sonder toestemming afwesig was, 14 vir gesinsgeweld, 11 vir ongemagtigde gebruik van staatseiendom en 23 vir besit van gesteelde eiendom.
Sedert 2013 is 563 saakdossiere verloor. Vanjaar het daar reeds 84 dossiere weggeraak tussen Januarie en April.
Bron: Netwerk 24




