Die Parys DBV is weer oop en lewer die organisasie sy dienste aan die gemeenskap soos in die verlede. Net losies- en oornagdienste vir honde en katte is tans nie beskikbaar nie, het Douglas Wolhuter van die NDBV se skakelafdeling, vandeesweek aan Gazette gesê.
Gazette het vroeër berig dat die Parys DBV tydelik gesluit was na klagtes van beweerde wreedheid teenoor diere. Die Parys DBV-komitee is toe ontslaan en tugstappe sou teen die betrokke personeellede geneem word. Dit het gevolg nadat daar vanaf Oktober verlede jaar probleme by die Parys DBV was, waarop roetine-inspeksies deur nasionale inspekteurs by die plaaslike DBV gedoen is, en al die diere van die perseel verwyder en na omliggende DBV’s geneem is.
Volgens Wolhuter is diere wat loseer het op die perseel ten tyde van die NDBV se optrede, aan hul eienaars terugbesorg en is mense wat navrae hieroor het welkom om insp. Zama van die NDBV te skakel by 079 500 7415.
Die organisasie wou hom nie uitlaat oor die vordering en uitkoms van sy dissiplinêre optrede nie, maar het wel gesê dat hy in die proses is om ’n nuwe komitee saam te stel.
Hy het mense opnuut gevra om die organisasie te ondersteun wat suiwer afhanklik is van die publiek se goedhartige skenkings en bydraes, om te kan voortbestaan.
Mense is gevra om nie gevalle of klagtes te rapporteer op die Parys DBV Facebookblad nie, omdat die blad tans nie gereeld gemonitor kan word nie. Mense kan die Parys DBV skakel by (056) 811 3671, of vir insp. Zama. Donateurs wat graag die DBV wil ondersteun, word gevra om slegs donasies via elektriese oorbetaling direk in die Parys DBV-rekening te maak.
Die rekeningbesonderhede is: Parys SPCA, Standard Bank, rekeningnommer 04 094 7882, takkode 055736.




