
’n Ongelooflike R11 000 se skenkings is op Woensdagaand 6 Februarie tydens die maandelikse Parys Business Network samekoms vir sakelui van Parys bymekaar gemaak vir die dorp se kunstefees.
Met dié skenking is daar nou R15 000 vir die Parys Arts Festival ingesamel vir kunstenaarbesprekings en bemarking van die fees.
Dit beteken dat nog minstens R35 000 nodig is om seker te maak die dorp kan weer vanjaar dié baie suksesvolle fees aanbied wat in 2018 ’n wegholsukses was.
Volgens Deon Terblanche, feesorganiseerder, is daar egter besluit om die fees te skuif na Augustus om meer tyd te gee om die fees te reël, sou die nodige fondse betyds ingesamel kan word.
Terblanche het ook verduidelik dat die R50 000 wat nodig is om die wiele aan die draai te kry, min is in vergelyking met die beduidende ekonomiese inspuiting vir die dorp van tot R500 000 en meer na raming, as die fees weer aangebied kan word.
Die groot geheim van die sukses van 2018 was juis die verskeidenheid aktiwiteite wat aangebied is, en die gemeenskap wat op verskeie maniere by die fees betrek was.
Daar was van viervoet-vriende wat kon saamverf terwyl daar met hulle deur die dorp gestap is, tot die talle kunsuitstallings, optredes en produksies, en selfs die ongelooflike hoendervel-belewenis van spontane strykinstrumentspel in die dorp se hoofstraat.
Gaan kyk gerus op https://www.thundafund.com/project/parysartsfestival hoe jy kan help en betrokke raak.
Onthou dat elke rand is ’n rand nader aan die doelwit.




