NewsNews

Meer as 80 000 vanjaar by Nampo

Die datums vir volgende jaar se NAMPO Oesdag is 12 tot 15 Mei.

‘n Ongelooflike 81 345 besoekers het verlede week die Nampo Oesdag handelskou op die Oesdagplaas net buite Bothaville bygewoon. Aangesien heelwat binnelandse graanprodusente asem opgehou het vir vroeë ryp wat oesopbrengste kon beïnvloed, was die betreklike warm weer wat tot die NAMPO-week geheers het, ‘n welkome mylpaal.
Ná die grondhervormingsdebat, droogte en lae graanpryse van die afgelope jaar, was die gemoedelikheid en positiwiteit van produsente merkbaar. “Ek het ʼn oplossing- en ʼn groeigedrewe ingesteldheid by produsente opgemerk,” het Jaco Minnaar, voorsitter van Graan SA, gesê.
Die Nasie in Gesprek-forum se gesprekspunte het vanjaar verskuif van grondhervorming na dit wat nodig is om die landbousektor en die land se ekonomie te laat groei. Wat ook na vore gekom het, is dat die landbousektor positief is om die plan vir ekonomiese groei te laat slaag, maar dat die regering onder meer dringende aandag moet gee aan die uitbreiding van markte, winsgewendheid van die sektor, ‘n nasionale oesversekeringsubsidie, vaardigheidsontwikkeling, verbetering van infrastruktuur en navorsing oor veral klimaat.
Volgens Jannie de Villiers, uitvoerende hoofbestuurder van Graan SA, bied NAMPO jaarliks aan die landbousektor ʼn platform om een groot strategiese beplanningsessie te hou. “Individuele en kollektiewe planne vir die volgende jaar word hier gemaak om terug te neem na plaasvlak.”
Dr. Dirk Strydom, bestuurder: Graanekonomie en Bemarking van Graan SA, sê vanjaar se 775 uitstallers het steeds aftrek gekry ten spyte van die heersende ekonomiese druk op verbruikers. Sommige uitstallers het rekordverkope gehad. Volgens uitstallers het die besoekers aan hul uitstalruimte gesorg vir kwaliteit navrae en belowende leidrade – wat baie meer werd is as net volume mense.
“Ons mikpunt is nie om groter te gaan nie, maar om die ervaring vir besoekers deurlopend op so ʼn standaard aan te bied, dat hulle volgende jaar weer wil kom.
“Die grootte van die terrein en die infrastruktuur wat goed versprei is, sorg reeds vir ‘n rustiger ervaring wat gesinsvriendelik is en iets vir elkeen bied. Selfs die vliegveld het ‘n rekord van 376 vliegtuie en 63 helikopters met gemak hanteer,” aldus Strydom.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button