Wêreld Sig Dag – so help Parys dokters ‘n verskil maak
Hoeveel keer sê ons werklik dankie vir ons oë en die gawe om te kan sien? ‘n Gawe wat baie nie beskore is nie. In Suid-Afrika alleen dra katarakte by tot 50% van blindheid. Iets wat met ‘n eenvoudige operasie van tussen 15 en 30 minute reggestel kan word om weer te kan sien. Vandag, …
Hoeveel keer sê ons werklik dankie vir ons oë en die gawe om te kan sien? ‘n Gawe wat baie nie beskore is nie.
In Suid-Afrika alleen dra katarakte by tot 50% van blindheid. Iets wat met ‘n eenvoudige operasie van tussen 15 en 30 minute reggestel kan word om weer te kan sien.
Vandag, Donderdag 10 Oktober, is Wêreld Sig Dag. ‘n Dag wat 100 mense wat hierdie gawe verloor het juis vanweë katarakte, nooit sal vergeet nie.
Hul katarakte is vandag gratis deur Envision Centre for Sight in Vanderbijlpark verwyder by die Cormed-hospitaal tydens ‘n 24 uur lange katarakmarathon waarmee daar om 24:00 vanoggend begin is.
Die dokters wat met hierdie ongelooflike daad uitgereik het, is drs. Lourens Coetzee, Cornelis Gouws, Philip Phatudi en Nombuso Mathe. Beide drs Coetzee en Gouws is van Parys waar dr. Gouws dan ook die Parys-tak van die Envision Centre for Sight behartig op vasgestelde dae.
Hulle het mekaar in die marathon afgelos, bygestaan deur dr. Pieter Lategan wat gehelp het met die narkose, en dr. J.D. Verwey. Beide drs. Lategan en Verwey is van Cormed. Dan was daar ook heelwat mense wat gehelp het met skenkings en ondersteuning vir die pasiënte om die projek moontlik te maak, asook 12 oogkundiges van Parys en Vanderbijlpark en dr Precious Phatudi wat vooraf gehelp het met die sifting van pasiënte en ook sal help met die opvolgondersoeke. Dankie aan elkeen van hierdie weldoeners en in besonder ook Cormed.
In Parys self is daar talle mense wat geweldig sukkel om as staatspasiënte gehelp te word, en was 20 Parysenaars bevoorreg om vandag onder die pasiënte te wees wat weer hul sig op hierdie manier kon terugkry.
Volgens plaaslike oogkundige, Annemarie Smit van Provision, moet die pasiënte wat nie oor mediese fondse of ander hulp beskik nie, gewoonlik na Kroonstad verwys word waar daar nie tans ‘n oogspesialis is nie. Gevolglik moet die pasiënte dan Bloemfontein toe gaan waar die besprekings so ver vooruit geboek is vir katarakchirurgie dat daar vir baie maande gewag moet word om dalk moontlik gehelp te word.
Vrystaatse pasiënte kan ook nie na Potchefstroom of Sebokeng verwys word nie.
Die mense wat vandag, Donderdag 10 Oktober, gehelp is, is gekeur op grond daarvan dat hulle nog nie voorheen katarak chirurgie ondergaan het nie, hul funksionering deur die katarakte geraak word, en nie andersins gehelp sou kon word nie. By elkeen van die pasiënte is daar op een oog geopereer.
Kyk ook vanaand na die insetsel van hierdie ongelooflike daad op eNuus.

Interessante feite
Ongeveer 285 miljoen mense wêreldwyd ly aan lae visie en blindheid. Hiervan is 39 miljoen mense blind, terwyl 246 geringe tot ernstige visuele probleme ervaar. Nog meer skokkend is dat 90% van blinde mense in armer lande is.




