Parysenaars se harte was oop sedert daar ‘n week gelede gevra is om uit te reik na die boervroue in nood in van die land se ergste droogtegeteisterde gebiede. Teen Dinsdagoggend was daar reeds nagenoeg 100 bokse gereed by die twee afsetpunte in Parys. En steeds het bokse bly instroom.
Die twee punte in Parys waar bokse afgegee kan word voor môre, 25 Oktober, is by Mirabel Gastehuis in De Villiersstraat waar Valtrac dan die koerierkoste na Wellington dra, of by Gerda Small Prokureurs in Waterstraat 22 Parys.
Wat behels die projek?
VLV (Vroue Landbou Vereniging) Wellington Sirkel Paarl het begin met ‘n projek om voor Kersfees vir elke boervrou in droogtegeteisterde dorpe in ons land ‘n bietjie hoop te gee met die projek, genaamd, “Boks vir ‘n boervrou in droogtegebied”.
Jy kan ‘n skoenboks of soortgelyke grootte boks vul met nie-bederfbare eetgoed, speserye, hawermout, wasmiddels, dettol, selfs lekker koffie of kondensmelk, badkameritems of wat ookal jou hart voel om in die boks te sit. Enigiets. Wat ookal jou sak pas. Jy kan dit self doen, of saam met ander, as groepe, kerke, skole of organisasies. Die bokse word toegedraai in koerantpapier of bruinpapier met ‘n mooi lint om en gestuur na VLV Wellington. Die vroue sal dan seker maak dat die bokse saam met ‘n vrag voer gestuur word na die gebiede waar die nood die hoogste is.
Die projek eindig einde Oktober.
Vir die VLV is dit deel van hul gemeenskapsuitreik. Vir my en jou ‘n manier om dankie te sê vir wat ons het en uit te reik na hulle wat werklik nou nood ervaar.





