NewsNews

Na doodsake wag ‘n nuwe lewe op ‘Jan Avbob’

Jan het deur die jare sowat 13 000 begrafnisse en verassings behartig.

Baie Parysenaars sal nog die gesig van Jan Greyling onthou.

Hy is op 13 Junie 1954 in Pretoria gebore en het ‘n wye draai geloop voordat hy by Avbob aangesluit het. Na voltooiing van sy skoolloopbaan aan Hoërskool Sentraal in Bloemfontein, het hy B.Com Regte aan Kovsies studeer en daarna in die hotelbedryf in Marquard betrokke geraak.
In 1985 is hy Bothaville toe, waar hy eers vir Nampo gewerk en later ‘n eie sakeonderneming begin het. Hy was ‘n tyd lank ook aan Old Mutual verbonde voordat hy op 1 Julie 1993 by Avbob Parys aangesluit het. In 1999 het hy die pos in Vanderbijlpark aanvaar.
Om begrafnisondernemer te word, was vir Jan ‘n maklike keuse. Sy pa was ook 30 jaar as ondernemer aan Avbob verbonde. Terwyl die meeste mense dalk ‘n vrees of weersin het om so direk met die dood saam te leef, was dié beroep ‘n passie wat Jan en sy pa gedeel het.
“Jy kry ons soort ouens nie van die straat af nie. Jy moet geroepe voel om dié soort werk te doen,” sê hy. Sy vrou, Hettie, was deurgaans sy regterhand met die administratiewe sake.
Jan het deur die jare sowat 13 000 begrafnisse en verassings behartig. Sy taak het egter nie by die fisiese werk gestop nie. Tussendeur moes hy ook opregte empatie kon betoon en mense in hul hartseer bystaan.

Dit kan ‘n depressiewe taak wees as ‘n begrafnisondernemer nie die emosionele onderbou het, of hanteringsmeganismes aanleer om te ontlaai nie. Jan lag lekker as mense hom vra of hy deur die jare ooit ‘n dwalende gees of spook teëgekom het.
“Nee, daar was nooit iets van dié aard nie,” sê hy. Een van die grootste begrafnisse wat hy deur die jare moes reël, was dié van die bokser Mike Schutte, wat deur duisende mense bygewoon is, maar dié van die vier leerlinge van Hoërskool Driehoek wat in Februarie weens die brugtragedie gesterf het, is selfs dieper in sy geheue vasgelê. “Dit was baie swaar vir ons almal by Avbob,” sê hy.
Hy moes deur die jare ook van sy eie familielede begrawe, onder andere sy ouers, wat op dieselfde dag aan natuurlike oorsake gesterf het. “My pa is die oggend aan inwendige bloeding oorlede. My ma het die middag ‘n rukkie gaan lê en het net nooit weer wakker geword nie.”
Met die huidige agteruitgang van begraafplase kies al meer mense om veras eerder as begrawe te word. Deesdae is dit sowat 20% begrafnisse teenoor 80% verassings, sê Jan. Wanneer hy op 31 Oktober sy kantoordeur die laaste keer agter hom toetrek, neem hy vele herinneringe en vriendskappe wat deel van sy lewe geword het, met hom saam “Dankie aan almal wat deur die jare saam met my gewerk het, en vir al die goedgesindheid wat ek veral van instansies soos hospitale, ouetehuise en dokters ontvang het.” Jan stel baie belang in sport en beplan om voortaan meer gholf te speel en hy is ook
lief vir stap. Hy en Hettie beplan om na sy aftrede in Vanderbijlpark aan te bly.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button