
Tydens ‘n openbare vergadering wat Aardklop Donderdagaand (13 Februarie) gehou het, het Alexa Strachan, feesbestuurder, uitgelig dat daar, soos elke ander jaar, klein aanpassings gemaak moet word om die fees se volhoubaarheid en sukses te verseker.
Een van die veranderinge is die moontlike skuif van die fees na die NWU se Joolplaas.
“Bekostigbaarheid, toeganklikheid, veiligheid én genoegsame parkering sal hierdeur verseker word,” het Delmari Van Zyl, bestuurder Media, Borge en Bemarking, in ‘n verklaring na afloop van die vergadering gesê.
Strachan het tydens die vergadering gesê dat alhoewel die skuif nog ondersoek word daar ‘n sterk moontlikheid is dat dit wel sal gebeur.
Volgens Van Zyl sal ingangsfooie na die terrein vir die derde jaar in ‘n ry slegs R30 per persoon wees, terwyl kinders onder 12 gratis sal kan inkom. Die weekskaartjies sal teen R80 beskikbaar wees.
Dié pryse geld ongeag of die fees skuif.
“Ons maak nie veranderinge omdat ons verveeld is nie. Dit is om die volhoubaarheid van die fees in Potchefstroom te verseker,” het Strachan gesê.
Aardklop sal van 22-27 September in Potchefstroom aangebied word.
Lees die oorspronklike berig hier: