NewsNews

Die oorsprong van Valentynsdag

Valentynsdag het ‘n lang aanloop in die geskiedenis en die oorsprong het, ironies, niks met die liefde te doen nie.

Valentynsdag, soos ons dit vandag ken, het ‘n lang aanloop in die geskiedenis en die oorsprong het, ironies, niks met die liefde te doen nie.

Dié dag is na ‘n heilige in die Rooms Katolieke kerk vernoem. Die Katolieke erken hom amptelik as Valentine, ‘n man wat rondom die jaar 270 na Christus gesterf het.

Verskeie verhale word rondom Valentine vertel. In sommige bronne, wat uit die 1400’s dateer, word Valentine beskryf as ‘n priester in die tempel wat  paartjies skelm getrou het. Die wrede Romeinse Keiser Claudius II wou ‘n sterk weermag bou en het geglo dat mans minder gewillig is om by die weermag aan te sluit wanneer hulle eers getroud is omdat hulle eerder by hulle gesinne wou bly. Hy het verbied dat paartjies verloof raak of trou. Valentine het geglo dit is onregverdig en het paartjies in die geheim getrou. In opdrag van Claudius II is Valentine naby Rome gevang. Hy is op 14 Februarie doodgeslaan en onthoof.

‘n Ander verhaal vertel weer dat Valentine die Biskop van Terni was. Claudius II het hom ook in die buitewyke van Rome laat martel en vermoor. Vandag word geglo dat dit waarskynlik dieselfde dieselfde persoon was.

Nog ‘n legende vertel dat, terwyl Valentine in aanhouding was, hy op die tronkbewaarder se dogter verlief geraak het. Hy het voor sy dood aan haar ‘n brief geskryf wat hy geteken het: “Van jou Valentyn.”

Die verskillende verhale rondom Valentine se lewe het later tot onsekerheid rondom sy ware identiteit gelei en die Katolieke Kerk het in 1969 ‘n einde gebring om liturgies eer aan die Heilige Valentine te betoon.

Daar bestaan verskeie heiliges met die naam Valentine

Die lewe van die heilige wat op Valentynsdag gevier word, staan amptelik as St. Valentine van Rome bekend. Daar bestaan egter ook verskeie ander heiliges met dieselfde naam. Valentine is afgelei van die Romeinse woord “Valentinus” wat in Latyn waardig, sterk en magtig beteken. Dit was ‘n gewilde naam tussen die tweede en agtste eeu na Christus. Die amptelike Rooms Katolieke rooster/kalender verwys na verskeie heiliges wat na Valentine vernoem is.

Die heilige wat mees onlangs salig verklaar is, was St. Valentine Berrio-Ochoa, ‘n Spanjaard van die Dominikaanse Orde, wat na Viëtnam gereis het. Hy het daar as Biskop gedien tot en met sy dood in 1861 toe hy onthoof is. Pous Johannes Paulus II het hom in 1988 as ‘n heilige verklaar. Daar was selfs ‘n pous wie se naam Pous Valentine was. Daar is nie veel oor hom geskryf nie, behalwe dat hy slegs vir 40 dae in 827 na Christus pous was.

Die ware St.Valentine

Vandag staan St.Valentine as die beskermheilige van verliefdes, byeboere en epilepsielyers bekend. Hy moet ook waak oor die plaag, mense wat flou word en diegene wat reis. Hy is ook die beskermheilige van verloofde paartjies en gelukkige huwelike.

St. Valentine se kopbeen in Rome

Die kopbeen van St. Valentine is met blomme versier en word in die Basilika van Santa Maria in Cosmedin, Rome uitgestal. In die vroeg 19de eeu is ‘n katakombus naby Rome opgegrawe waar die kopbeen en ander relikwieë van St. Valentine na bewering gevind is. Verskillende dele van dié heilige se liggaam word vandag regoor die wêreld – in die Tsjeggiese Republiek, Ierland, Skotland, Engeland en Frankryk – uitgestal.

Die kopbeen van St. Valentine word in die Basilika van Santa Maria in Cosmedin, Rome uitgestal.

Die romantiese Valentynsdag het by ‘n Engelse digter begin

Die Middeleeuse Engelse digter, Geoffrey Chaucer, het dikwels die karakters in sy gedigte in ‘n fiktiewe historiese konteks geplaas en dit as die waarheid voorgehou. Daar bestaan nie enige bewys van romantiese feesvierings op Valentynsdag voor Chaucer se gedig, “Parliament of foules” (1375) nie.

Geoffrey Chaucer. Foto: Biography.com

In hierdie gedig assosieer hy hofmakery met die viering van St. Valentine se feesdag. Hierdie assosiasie is eers gemaak nadat sy gedig wye aandag gekry het. Die gedig verwys na 14 Februarie as die dag wat voëls (en mense) bymekaar kom om ‘n maat te vind. Hiermee die uittreksel uit Chaucer se gedig:

For this was sent on Seynt Valentyne’s day
Whan every foul cometh ther to choose his mate. 

BRONNE
https://www.britannica.com/biography/Saint-Valentine
https://www.history.com/this-day-in-history/st-valentine-beheaded
https://www.history.com/news

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button