News

Raad hoor voorstelle vir aanpassings op begroting

Raad hoor voorstelle vir aanpassings op begroting

Die Ngwathe burgemeester, rdl. Joey Mochela, het verlede Vrydag by ‘n spesiale raadsvergadering in Heilbron haar voorstelle vir die noodgedwonge aanpassing van die huidige begroting aan die Raad voorgehou.

Die grootste aanpassings hou verband met nie-realisering van begrote inkomste. Hieronder tel ‘n bedrag van R35 miljoen waarvan Nasionale Tesourie betaling weerhou het tydens die oorbetaling van die munisipaliteit se interowerheids-toekenning in Desember 2019.
Die agtergrond waarteen die weerhouding geskied het, is dat die munisipaliteit versuim het om kapitale projekte wat vir die 2019 boekjaar beplan was, volledig in die betrokke jaar uit te voer. Volgens VF Plus rdl. Phillip van der Merwe, is die reël dan dat alle ongespandeerde fondse op hande, aan die einde van die boekjaar aan Tesourie terugbetaal moet word, tensy toestemming spesifiek verleen word dat dit na die volgende boekjaar oorgedra kan word. Ngwathe het aansoek gedoen vir oordrag van die fondse na die nuwe boekjaar en het in afwagting van goedkeuring voortgegaan met die betrokke projekte, maar Tesourie het teen die verwagting in geweier om oordrag van die fondse goed te keur.

Omdat die fondse egter intussen aangewend was vir die voortsetting van die projekte, moes Ngwathe fondse uit ander bronne vind om die “boeke te laat klop” en die terugbetaling te finansier.

Die fondse was voorsien vir waterdienste opgradering (terugbetaling R7,4m) en streeks grootmaat infrastruktuur (terugbetaling R27,6m).
Uitgawes voorsien in die begroting word besnoei deur onder meer besparings op finansieringskoste, grootmaataankope, kontrakteursdienste en etlike ander.
Die begrote inkomste (en verwagte uitgawes) daal tans vanaf R791 miljoen na R763 miljoen.
Rdl. Van der Merwe het tydens die vergadering gewaarsku dat strenger stappe teen wanbetalers geneem sal moet word om die begroting uiteindelik te laat klop, aangesien daar tans na raming net tussen 55% en 65% van die begrote inkomste uit erfbelasting en dienstegelde ingevorder word.
Die aanpassingbegroting is na bespreking deur die Raad aanvaar en die goeie nuus is dat die munisipaliteit darem weer opnuut in die nuwe boekjaar mag aansoek doen vir toekenning van fondse om die half voltooide projekte te kan voltooi.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button