Vir diegene wat nie by die huis was toe die nasionale staat van inperking aanvanklik aangekondig is nie, is daar nou een kans.
Een kans om tot 7 Mei tussen provinsies, distrikte en metropole te mag reis sonder ‘n permit om uiteindelik nou by jou huis te kan kom, maar onthou – al het jy vir hierdie een reis nie ‘n permit nodig nie, sal jou verduideliking agtermekaar moet wees. Jy kan steeds nie sommer net vanaf vandag, 1 Mei, in die motor spring en oor provinsiegrense reis nie. Hierdie is slegs vir mense wat nie by die huis kon kom toe die inperking aanvanklik aangekondig is.
Jy moet onthou dat waarnatoe jy dan nou reis, is waar jy gaan moet bly totdat vlak 4 inperking afgeskaal word. Daarom moet jy hierdie vergunning baie verantwoordelik gebruik en seker maak jy kom die reëls na, want jy sal waarskynlik deur padblokkades moet beweeg en as jy nie hou by die regulasies nie en hierdie vergunning net gebruik vir rondrits, kan jy beboet of selfs gearresteer word.
Onthou ook dat as jy ‘n essensiële werker is of essensiële diens verrig, moet jy steeds die wettige permit in jou besit hê van jou werkgewer of organisasie met die toepaslike adresse en kontaknommers daarop. Jy moet jou identiteitsdokument te alle tye by jou hê.
Oppas vir allerhande permitte wat op sosiale media versprei word. Van hierdie permitte word gebruik in ander lande en sal nie hier in Suid-Afrika by padblokkades aanvaar word nie. Maak seker jy het die regte dokumentasie voordat jy op die pad gaan.





