NewsNews

Professor hardloop 110km in sy tuin vir rampverligting

“Daar is baie mense wat hul werk verloor het. Ek dink as mense iets ekstra het moet ons dit vir ons plaaslike gemeenskap gee.”

Met elke tree is hy nader aan die eindstreep van ‘n uitmergelende wedloop, daar is geen skare wat hom aanspoor nie, net sy eie hart en gedagtes wat op sy doel fokus om 110km in sy tuin te voltooi.

Ja jy het reg gelees, die Potchefstromer, Dewald van Niekerk, ‘n bekende in hardloop- en marathonkringe en professor aan die NWU in ramp- en risikobestuur, het verlede week ‘n ongelooflike 110km vir ‘n goeie doel in sy agtertuin voltooi.

Dit het hom ongeveer 24 uur en 10 minute geneem om te voltooi. Tussendeur het hy net twee en ‘n half uur se slaap ingekry.

Hy het ook sy vordering op sosiale media gedeel en meer as R 10 000 vir die plaaslike Potch-Tlokwe Sakekamer se Rampverligtingskomitee ingesamel.

“Daar is ‘n hele paar virtuele wedlope wat oor die grendeltydperk beplan was. Ek het die Ultra Trail Drakensberg-wedloop gedoen, wat die afgelope naweek sou plaasvind. Met die inperkingstyd het dit toe ‘n virtuele wedloop geword wat jy in jou tuin kon doen. Jy kan 12km tot 160km doen. Ek het besluit om eers net 17.1km te doen en later terwyl ek gehardloop het, het ek besluit om aan te gaan en verder te draf,” noem hy.

“Ek het besluit om dit vir plaaslike rampverligting in Potchefstroom te doen aangesien ek aktief betrokke is. My oorspronklike doel was om R5 000 in te samel wat dan 5 000 etes aan behoeftiges sou voorsien. Dit het nou byna verdubbel en dit is wonderlik,” vertel hy.

Een van die uitdagendste aspekte van so ‘n lang en uitmergelende poging is dat die roete nie juis veel vir die oog is nie.

“Die roete in my tuin is so 110 meter, so vir ‘n gedeelte moet ek ook in my motorhuis hardloop omdat die GPS op my hardloophorlosie wat my afstand meet, nie baie goed van sirkels af meet nie. So ek verloor 20m op elke rondte wat die GPS optel.

Ek moes maar op papier ook rekord hou, sowel as om verskillende roetes op die gras te hardloop sodat ek ook nie al die gras hoef pap te trap nie,” verduidelik hy.

Eensaamheid en die vreemde gevoel om nie deelnemers langs jou te hê nie, was ook iets nuuts. Tog kon Van Niekerk op vinnige hulp en ondersteuning van sy gesin tydens die poging staatmaak.

“Dit is eensaam om so in jou tuin te hardloop, maar ek het besluit om dit op Facebook te deel nadat ek so 20-30km gehardloop het om ‘n verskil te maak. Baie mense samel geld in vir nasionale veldtogte, maar ek wou dit plaaslik hou. Ek het ook kontak met ander atlete gehad soos Hanno Labuschagne, wat die 100 myl (160km) roete voltooi het.”

Van Niekerk, wat al toekennings en groot eer vir sy werk op die gebied van rampbestuur gekry het, hardloop al sy hele lewe lank, maar het eers die afgelope vier jaar ultramarathons begin aanpak. Tans is hy ook baie besig weens die koronavirus-pandemie met sy kennis en ervaring, wat ‘n groot bron van hulp is.

“My betrokkenheid by dié pandemie hou my lank voor ‘n rekenaarskerm, so ek hou daarvan om bietjie asem te skep en aan verskeie virtuele wedlope deel te neem. Ek dink die meeste wat ek van die ervaring om 110km om my huis te hardloop sal onthou, is dat my kinders ook ‘n bietjie saam met my gedraf het. Die moeilikste van hierdie aanhoudende roete is om jou kop reg te kry, aangesien alles heeltyd dieselfde lyk. Om om ‘n huis te hardloop, is ‘n heel ander storie. Na sowat 42km raak dit regtig moeilik om te konsentreer op wat jy doen,” verduidelik hy.

Van Nierkerk is ook van mening dat mense hulle harte moet oopmaak en daar saai waar hulle geplant is.

“Almal in die toeriste- en sportindustrie het die grootste knou gekry. Die trailrunners het die afgelope tyd hulle harte oopgemaak en geld vir ‘n goeie doel ingesamel. Ek dink in hierdie vreemde tye waar ons om ons huise hardloop, kan mense bewus maak en is vir ‘n goeie doel om ander mense te help.

“Daar is baie mense wat hul werk verloor het. Ek dink as mense iets ekstra het moet ons dit vir ons plaaslike gemeenskap gee.”

Van Niekerk is mede-eienaar van Event 81 en hy het ook nuwe tekkies aan ‘n gelukkige persoon wat geld vir hierdie goeie saak geskenk het, gegee.

Donasies kan in die volgende rekening inbetaal word:

Bank: Nedbank

Rekeningnaam: Potch Tlokwe Sakekamer Projekte

Rekeningnommer: 1201 6633 42

Rekeningtipe: Tjek

Takkode: 198 765

Verwysing: “Dis relief” + voorletters en van.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

Professor hardloop 110km in sy tuin vir rampverligting

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button