
Van vroegdag af word daar al in lang rye gestaan by banke en klerewinkels in Parys.
Massas mensegesigte agter kleurvolle maskers. Meeste nie meer halfmas onder die ken nie.
Jy sien nie gesigsuitdrukkings nie. Net oë wat stil na jou kyk. Daar word nie veel gepraat nie.
Daar is afstand – ‘n nuwe normaal wat jy sukkel om vashouplek aan te kry soos die masker wat krap aan jou gesig.
Ja dit is besig in die strate.
Veral in die middedorp, en as jy jou ‘n oomblik verbeel, sou jy kan dink dat dit ‘n besigheidsdag is soos enige ander voordat Covid-19 ‘n woord geword het wat in ‘n oogwink ‘n wêreld sou verander.
Tog as jy na die hoofstraat van Parys beweeg wat gewoonlik ‘n kleurvolle bedrywigheid van besoekers was wat rustig van winkel na winkel gestap het, om die unieke karakter van die dorp en sy besighede te beleef, is dit ‘n ander prentjie.
Kleiner winkels op ‘n streep gesluit, ingeperk. Niemand op restaurantstoepe nie.
Jy mis die baie motorfietse wat blink in die hoofstraat sou staan. Jy mis die geselsies waar jy kom.
Dit net die herfsblare wat saamdrom op verlate winkelstoepe.
En jy weet – die virus-stilte is nog lank nie verby nie.