
Munisipale dienslewering sal voortaan ook in die Parys gemeenskap aangespreek word deur die organisasie, Parys Sakeliga, wat deur ’n groep sakelui en inwoners van Parys, gestig is. Die stigting is gedoen met die hulp van Sakeliga, as nasionale strategiese vennoot.
Die organisasie is ’n gemeenskapsorganisasie vir die gemeenskap wat funksioneer sonder winsoogmerk, en wat vanuit sy affiliasie met Sakeliga, in staat is om regsaksie en projekte strategies te kies sodat dit vir die dorp verligting kan bring, maar ook deel kan vorm van ’n sterk, strategiese bloudruk wat ander gemeenskappe in soortgelyke situasies kan bevoordeel. Volgens Ernst Vorster, hoof van plaaslike sakeligas en affiliasies by Sakeliga, is ’n sakeliga meer as ‘n tradisionele sakekamer, maar ook meer as ‘n tradisionele gemeenskapsorgansisasie.
Hy sê Sakeliga voorsien bloot ‘n getoetste model waarin gemeenskappe hulself kan organiseer, self besluite kan neem en hulself kan bestuur, maar met die voordeel dat hulle op ‘n nasionale kennispoel kan reken.

Parys Sakeliga se amptelike opening word tydens ’n gemeenskapsvergadering op Donderdag, 12 November om 18:30 by die AfriDome in Allenbystraat gehou. Sakeliga nooi die gemeenskap om saam te kom bou aan ‘n plan vir Parys, en aan te sluit by die organsiasie. Die stigting vorm deel van Sakeliga se strategiese uitbreiding op plaaslike vlak om gesamentlik die sterkste sakegemeenskap in Suid-Afrika te vorm, en tradisionele sakekamers ‘n reeks oplossings te bied om hul sakegemeenskap te verenig, tesame met ondersteuningsdienste. Regsadvies en -strategie sal onder meer met die nuutgestigte sakeliga tydens ‘n werkswinkel bespreek word om opsies vir onmiddelike probleme te evalueer.




