
Die reuk van varsgebakte brood en die hartlikheid van ’n man wie se passie hy uitgeleef het met die knie van elke stuk deeg. Dit is hoe Parysenaars Goue Aar se Romy Masson sal onthou.
’n Man wie nie net bakkersbloed in sy are gehad het nie, maar wie se hart oop was om te gee – dit wat hy gehad het, maar ook sy tyd om ’n verskil vir ander te maak.
Romy is Sondagaand in die ouderdom van 69 jaar in ’n Johannesburgse hospitaal oorlede nadat hy ongeveer 2 maande gelede ernstig siek geword het, vermoedelik aan kanker.
Romy is in Gent, België, gebore as 1 van 12 kinders. Hy was net 9 jaar oud toe hy begin uithelp het in sy swaer se bakkery.
In 1972 besluit hy en 2 van sy broers om na Suid-Afrika te kom en hier saam ’n besigheid te begin. Dinge het nie uitgewerk soos hulle beplan het nie, en is hy terug België toe net om ’n jaar of so daarna weer terug te keer. Dié keer het hy as gekwalifiseerde elektrisiën in die myn gaan werk.
In 1994 begin hy en sy dogter, Debbie, Goue Aar bakkery in Kortstraat, Parys. Later sluit sy ander dogter, Bianca, ook by hulle aan, en het Romy saam met sy vrou, Marlene, en hul dogters Goue Aar bakkery vir meer as 20 jaar besit.
Romy was oor jare baie betrokke by Epilepsie SA en ander instansies soos die destydse OVV (nou VVA), Basapark en ook by kerk verrigtinge. As Rotariër het hy baie vriende gemaak, en ook hier sy bydrae gelewer om uit te reik na ander. In 2014 verhuis Romy, Marlene, Debbie en haar man, Koos, en hul dogter, Caroline na George om daar Goue Aar Bakkery oop te maak. Vir Romy was dit ’n droom wat bewaarheid is – sy droom om by die see te kon aftree.
Maar sy lewenspad was anders bestem. Parys het ’n ongekende plek in sy hart gehad en trek hy en Marlene in 2017 terug na Parys waar hulle hul by Udolpho gevestig het. Tot voor sy dood op 69-jarige ouderdom het hy gebak vir Bietjie liefde en National Roadhouse. Romy word oorleef deur sy 11 broers en susters waarvan 2 in Suid-Afrika is, sy dogter Bianca wat in België bly, sowel as Debbie, Koos en sy 4 kleinkinders.
* Die reëlings vir die troosdiens was nog nie bevestig ten tyde van die skryf van hierdie berig nie.




