Liewe Persoon Ons werk (steeds) van die huis af, want die Covid-kiem hardloop onbevange in die strate en korporatiewe werkspasies rond. Moenie my verkeerd verstaan nie, voorsorg is beter as nasorg en na my eie onderonsie met die virus nog meer so. En om van die huis af te werk het besliste voordele, veral in die winter. Slippers, uitgerekte (maar uiters gerieflike) sweetpakke en die vryheid om soveel Milo te drink as ek wil, sonder enige judgement. Wat my wel dwars in die krop steek is die feit dat ek nou met my eie maniertjies gekonfronteer word op ‘n heel ander manier. En ja, na veertig (plus) jaar behoort dié jakkalsies mos nie onbekend te wees nie, maar glo my, hulle is volksvreemd by tye. Dis asof ek myself van voor af leer ken. Aangename kennis! Ek is Annette en sonder my korporatiewe poeier en paint is ek:
In wese ‘n knaagdier.
Dis reg. Ek is seemingly op my gelukkigste as my kake besig is. En ek is glad nie kieskeurig nie. Ek verslind springmielies met net soveel passie as wat ek ‘n beker Cup-a-Soup afsluk, ‘n jelly baby nekomdraai of ‘n katjiebotterbroodjie verorber. Ek sê ook nie sommer nee vir Two-minute noodles nie en ek kan ‘n Marie-beskuitjie raak hap. Dit is juis om dié eintste rede dat ek vroeg reeds opgehou het om in die kombuis te sit en werk, want al waaraan ek nog nie geknaag het nie is ‘n kombinasie van tamatiesous en koeksoda… die res van die spens het ek deeglik deurgetrap (of is dit nou deurgewei?).
Geneig is na slonsgemak.
Sad but true. Hoekom sal ek nou in dié tyd met body shapers en knee highs bodder? Om nie eens van sindelike baadjies, knopieshemde en polvye te praat nie. Nee. My gunsteling sweetpak, die een met die verrekte middel en die te lang moue doen die ding (dag na dag… na dag). Die nuwe gonswoord is mos lounge wear…die gerief van pajamas met die oëverblindery van die jongste modegiere. Ek is egter nog nie daar waar dit logies sin maak om ‘n boob tube saam met ‘n sweetpakbroek te dra nie… Hier laat die jonger generasie my behoorlik kopkrap: dit is winter mense, (tradisioneel) ‘n tyd om jou maak toe te hou! (Veral as jy dié ensamble afrond met ‘n serp of ‘n mussie…#maaktoedaaimaag).
Versot op Turkse tellanovellas is.
Ja die acting is nie te wat wonders nie en soms beweeg die akteurs se monde al het hulle oorgeklankte woorde al lankal opgehou. Daar is egter iets ongelooflik verslawend om na mense te kyk wat in off shoulder aanddrag inkopies doen, aanhoudend tee drink (selfs tydens aandete in ‘n restaurant) en wat dag en nag oorgroot donkerbrille soos Jackie O dra.
Beslis verwant is aan die vroeë grotvrou.
Ek kan vroeg opstaan en aan die werk spring, maar die oomblik as dit neig na skemer dan slaan my kop toe, my motiveringsvlakke daal gevaarlik laag en ek word oorval deur ‘n oeroue drang om die kooi te bekruip. My logika werk so: son = dag = werk. Maan = nag = slaap.
‘n Zoom-zero en ‘n Teams-tannie.
Jip. Ek is daardie kollega wat OF nie haar mikrofoon betyds afsit nie OF wat vergeet dat die mikrofoon af is en dan sonder ophou babbel. Ek dink dit is die techno weergawe van PUSH en PULL (en julle almal weet hoe angsbevange ek aan ‘n glasdeur kan ruk en pluk).
‘n Tropdier is.
Ek het nie ‘n probleem om op my eie te wees nie en kan alleen wees sonder om lonesome te wees. As jy verstaan? Maar ek sal ook die eerste een wees om te erken dat ek na my clan verlang. Dit is veral waar as dit by werk kom. Ek mis die kameraadskap, die tong-in-die-kies draak steek, die vroegoggend koffie chats oor alles van Zuma, die Royal family, die prys van diesel en die 7de Laan-storielyn.
How To-verslaaf is.
Daar is baie min How To-videos wat ek nog nie gekyk het nie: hoe om skipants in ‘n vollyf swembroek te verander, hoe om piesangbrood te bak deur piesangskille te gebruik, hoe om jou hare met tandepasta te kleur en selfs hoe om ‘n rubber balletjie te maak deur slegs ‘n eier en ‘n koppie asyn te gebruik. Ek weet ook, danksy hierdie videos, hoe om ‘n pynappelkroon te plant, sykouse te gebruik om borrels mee te blaas en hoe om met ‘n glas Coke die kringe in die bad te verwyder. O, en voor ek vergeet. Jy kan ook die water waarin jy beet gekook het, gebruik om ‘n lekker vrolike rooi lip ice te maak, sou jy wou.
Van drukkies aanmekaar gesit is.
Een van die dinge wat ek die meeste mis sedert die aanvang van die koronavirus, is aanraking. Ek is ‘n drukkie mens en is seker dat aanraking een van my liefdestale is. ‘n Drukkie sê net soveel meer. ‘n Drukkie beteken net soveel meer. Geen wonder die twee brakke, Steve en Fiela, hol al die vlaktes in as hulle my hoor aankom nie, want ek drukkie hulle lam! Hierdie elmboog-touch en voetjie vastrap doen dit nie vir my nie. Annette Willemse is die baie talentvolle skrywer van die Blog, Liewe Persoon. Gaan lees gerus haar kuberbriefies.