Uitspraak teen onwettige jagters verwelkom
Wanneer die reg betyds toegepas word, word nie net wild beskerm nie, maar ook die mense wat hul lewens wy aan bewaring en voedselproduksie.
Die uitspraak van die Howick Landdroshof waarin vier persone skuldig bevind is aan onwettige jagaktiwiteite ingevolge artikel 42(2) van die KwaZulu-Natal Nature Conservation
Ordinance is deur die organisasie TLU SA verwelkom.
Die organisasie sê die uitspraak bevestig dat daar nie eers gewag moet word totdat wild doodgemaak word voordat daar opgetree kan word nie. “Die beskerming van wild begin by die voorkoming van misdaad, nie slegs by die vervolging daarvan nadat skade reeds aangerig is nie.”
Vir boere is hierdie uitspraak veral ook belangrik omdat onwettige jag selde ‘n geïsoleerde
voorval is. Dit gaan dikwels gepaard met onwettige betreding van private eiendom, die skending van eiendomsreg, die bedreiging van gesinne, die beskadiging van infrastruktuur en die verlies van waardevolle wild en vee. Dit plaas ‘n geweldige finansiële en veiligheidslas op grondeienaars.
TLU SA sê die uitspraak stuur ‘n belangrike boodskap dat die regstelsel bereid is om op te tree waar daar voldoende getuienis is van onwettige jagaktiwiteite, selfs voordat onherstelbare skade plaasvind. ‘n Beroep is egter ook op wetstoepassingsowerhede gedoen om soortgelyke prioriteit te gee aan alle misdade wat boere en landelike gemeenskappe raak. “Voorkomende optrede, vinnige ondersoeke en doeltreffende vervolging is noodsaaklik om vertroue in die strafregstelsel te versterk,” het die organisasie benadruk.



