
Om vandag gestrand langs die pad te staan, hetsy langs ons hoofweë of ’n verlate pad is, is ’n nagmerrie wat baie motoriste vrees weens die gevaar van kapings of ander misdaad wat ’n daaglikse realiteit geword het. Maar vir ’n inwoner van Parys, Gerrie van Niekerk, is daar groot dankbaarheid teenoor twee polisielede van Parys SAPD, wat uit hul pad gegaan het om te help, toe hy en sy suster, die afgelope naweek met motorprobleme gestrand was langs die N1. Gerrie vertel dat hy en sy suster Saterdag 25 September, van Marble Hall op pad terug was na Parys. Al van voor Pretoria het sy motor begin probleme gee toe dit aanhoudend uitgesny het. “Ons het noodgedwonge ’n hele paar keer aan die kant van die pad tot stilstand gekom.”
“Die laaste keer was onder die brug voor die Parys-afrit. Ons was teen daardie tyd al moedeloos en het hardop gebid om tog net Parys veilig te haal.” “Op daardie oomblik het ’n polisievoertuig agter ons gestop met sers. Keyser en kons. Booi daarin. Sers. Keyser het onmidellik sy vinger op die probleem gelê en aangebied om agter ons aan te ry om toe te sien dat ons veilig tuiskom.” “Ons het die huis bereik al rukkend met ’n stop hier en daar, maar ons was veilig deur die genade van die Here en Sy voorsienigheid om op die regte tyd sers. Keyser en kons. Booi op ons pad te stuur.” Gazette het vroeër vanjaar ook berig oor ’n verkeersbeampte wat ’n bejaarde motoris gehelp het om veilig in Vredefort te kom nadat hy sonder brandstof langs die Parys/Vredefort-pad gaan staan het. Dankie aan toegewyde manne en vroue in uniform wat daagliks ten spyte van dikwels baie gevaarlike omstandighede veral tydens hoofweg patrollies wat ook deur hierdie lede gedoen word, steeds bereid is om die ekstra myl te loop om iemand in nood te help. Dié hoflike behulpsaamheid wat ook dié naweek deur die lede aan Gerrie en sy suster bewys is, getuig hiervan.




