Kunstenaar vertel van straatkuns roete-droom vir Parys
Kunstenaar vertel van straatkuns roete-droom vir Parys

Met sy kleurvolle straatkuns het Deon TerBlanche al sy stempel op vele onooglike en vaal mure in Parys afgedruk. ‘n Dorp wat bekend is as tuiste van verskeie kunstenaars. Ná die sukses van Deon se vorige projekte en die positiewe uitwerking wat dit op besoekers en plaaslike inwoners gehad het, met talle getuienisse van onder meer hoe die kleurvolle Boomstraat-muur mense wat daar verbyry in ‘n positiewe luim sit, het Deon besluit om nog projekte vir die dorp aan te pak.
Hy wil veral ‘n verskil maak wat werkskepping betref ná die terugslag wat die Coronavirus-pandemie ook vir die plaaslike ekonomie gebring het. In Johannesburg, Kaapstad en Durban is daar talle besighede en private ondernemings wat ‘n bestaan voer deur besoekers onder meer op Straatkuns/Graffiti-toere deur die stad te neem. Deon se idee is dat mense moontlik van die trapfietse wat plaaslik te huur is, perdekarre, gholfkarretjies, Epilepsie SA se Vrystaat/Noordwes-sentrum bussie, asook huurmotors gebruik kan maak, wat dan deur middel van ‘n gesentraliseerde kaartjiestelsel besoekers op só ‘n toer kan neem. Die toer sê Deon kan fotostoppe by die rivier insluit, ‘n besoek aan Parys se eie eiffeltoring en meer, en dan eindig by ‘n laaste koffiewinkel-stop. Nie net sal die toer die voordeel van werkskepping hê nie, maar restaurante, koffiewinkels en gastehuise asook ander plaaslike sakelui hieruit laat voordeel trek, meen Doen.

Die betonmuur van die Mimosa Tuine in Boomstraat met sy kleurvolle patrone wat Deon, vrywilligers uit die gemeenskap en Voortrekkers van die Parys Voortrekkerkommando geverf het, kort voor die Coronovirus-pandemie. Foto’s: Verskaf

Dié substasie in Parys het ook danksy Deon TerBlanche ‘n besondere trots Suid-Afrikaanse tema gekry. Foto: Verskaf
“My werk is eenvoudig om genoeg kunswerke te skep om so ‘n roete suksesvol te maak. Ek het reeds begin met twee nuwe projekte in Parys se hoofstraat. Ek gaan die muur van die Metodiste Kerk oorkant Jimmy Jaggers volgens ‘n tema kleurvol oorverf, asook ‘n baie groter ambisieuse projek wat behels dat basies die hele gebou oorkant Spar in graffiti-styl geverf word.” “Dit sal n baie positiewe verandering bring en beslis deur besoekers raakgesien word. Ek hoop om só Parys se reputasie as ‘n ‘kunsdorp’ te versterk. Dit is immers een van die dinge wat die dorp nog altyd ‘anders’ maak, en ons moet ten alle koste daarop voortbou.” Die twee projekte is ook nie die einde van Deon se drome om vir die dorp ‘n kleurvolle en kunstige baadjie aan te trek nie. Nog een van sy toekomsdrome is om al die elektriese meterkaste waarvan baie ‘n seer oog langs die dorp se strate is, kleurvol en volgens temas te verf. Hy wil ook ‘n groot dubbelverdiepingmuur in die dorp se hoofstraat gebruik om ‘n huldeblyk te skilder vir ‘n plaaslike kunstenaar wat vanjaar oorlede is.
Vir Deon om die eerste twee projekte aan te pak het hy geldelike skenkings nodig vir die verf. Nog minstens R3 000 is nodig. En dan is daar ook hande nodig. Parys Voortrekkerkommando het met die laaste projek in Boomstraat met vele hande gehelp om die verfwerk in ‘n japtrap gedoen te kry. Enigeen wat bereid is om te help – of jy ‘n plaaslike inwoner of kunstenaar is, is welkom. Jy kan Deon per WhatsApp kontak by 083 338 4234. Die bankrekeningbesonderhede vir donasies wat uitsluitlik vir die dorpsprojekte oopgemaak is, is as volg: Deon TerBlanche, Spaarrekening, TYMEBANK, Tak: 678910, Rekening: 51004953501.





