Predikant vertel van angsoomblikke toe man oor muur spring
Predikant vertel van angsoomblikke toe man oor muur spring

’n Predikantspaar van Parys en hul twee jong kinders is ongedeerd ná hul vreesbevange oomblike toe ’n man Saterdagoggend helder oordag oor die gesin se omheiningsmuur in Buitenstraat gespring het, terwyl hulle besig was om buite ontbyt te eet.
Ds. Juan de Beer het Maandagoggend vertel dat hy ten spyte van die angsoomblikke wat hulle beleef het, glo dat omdat hulle as gesin voorbereid was met ’n aksieplan, dit gehelp het dat hulle rustig kon bly, en vinnig kon reageer. “My oudste was ’n regte kampioen wat gehelp het om sy jonger boetie van net ouer as ’n jaar rustig te hou.”
“Ek besef nou meer as ooit hoe belangrik dit is om jouself te beveilig,” het Juan gesê, en ook met groot dankbaarheid en lof vertel van die vinnige reaksie van polisielede, sekuriteitsdienste, We Care en die gemeenskap.
Juan en die kinders was net voor 09:00 die oggend buite, terwyl Maleny gou in die huis was om iets te kry. Skielik het Juan aan die honde se blaf gehoor dat daar fout was en toe hy opkyk, die verdagte by hom sien verbyhardloop – baksteen in die hand. Juan het dadelik die kinders in die huis ingevat en vir Maleny geskree om haarself en die kinders te beveilig.
Hy kon sy wapen kry en het die man beveel om stil te staan en te gaan sit terwyl gewag is op die polisie en sekuriteitsdienste wat Maleny intussen ontbied het. Maleny het ook nog ’n man met ’n mes in die huis opgemerk.
Die verdagte wat Juan buite aangehou het, het hom heeltyd probeer oortuig dat hy vir sy lewe vlug en dat iemand hom jaag. Hy het kort-kort vir Juan gesê “daar gaan hy,” en toe skielik opgespring en in die huis ingehardloop.
Weer het Juan hom gemaan om nie verder te hardloop nie en hom rustig en uit die huis gekry tot op die grasperk. Van die ander verdagte wat Maleny gesien het was daar egter geen teken nie en het hy vermoedelik die hasepad gekies.
Toe die polisie en sekuriteit op die toneel kom is die verdagte wat by Juan was in hegtenis geneem, en seker gemaak dat daar nie nog verdagtes in die erf of huis skuil nie.
Afgesien van die groot skrik is niemand beseer nie en niks uit die woning of erf gesteel nie. Die polisie ondersoek die saak.
Die gesin sê baie dankie vir elkeen wat hulle so vinnig gehelp het en die manier waarop daar omgesien is na hom en sy gesin om seker te maak dat hulle veilig sou wees.