Jong ringtennisspelers die fynere kunsies van die spel geleer
Jong ringtennisspelers die fynere kunsies van die spel geleer

Ses lede van Parys-ringtennisklub het van Donderdag, 7 Oktober tot Sondag, 10 Oktober aan die SA Junior Ringtennis-toernooi deelgeneem. Die toernooi is by Altelekker Jeugkamp tussen Kemptonpark en Centurion aangebied. Tydens die toernooi is die jong ringtennisspelers die verskillende fasette en reëls van die spel geleer. Onthou dat Parys-ringtennisklub elke Dinsdag en Donderdag om 17:00 by die NG-gemeente Parys-Oos oefen.

Deon van Dyk word deur Johan Ferreira (SA skeidsregter), gelukgewens met sy toetsuitslae. Ringtennis is ‘n sport wat ewe veel pret as uitdaging bied en solank jy nog vlug van voet en oog is, is jy beslis nie té jonk of té oud vir ringtennis nie. Benewens die oefening wat die sport jou bied, is dit die ideale geleentheid om mense te ontmoet met weeklikse sosiale spel en terselfdertyd ‘n lekker wegbreek na die lang dag se werk. Naas ‘n paar tekkies, het jy niks meer nodig nie. Jy hoef ook nie ‘n ervare speler te wees nie. Beginners en selfs kinders is baie welkom. Kom speel saam en kyk hoeveel pret daar is in dié sport.