Working on Fire-span beloon vir spanwerk en uithouvermoë
Working on Fire-span beloon vir spanwerk en uithouvermoë

Die Working on Fire-span wat in Parys gestasioneer is, kon onlangs met die spantrofee by die jaarlikse Geelkaart-oefenkamp wegstap. Tydens die strawwe drie dae lange kamp wat van 2-4 April gehou is, is die deelnemende spanne se fiksheidsvlak, spanwerk en vermoë om te kan saamwerk, getoets.
Die span van Parys is saam met die spanne van Winburg, Heilbron en Kroonstad by die Soetdoring natuurreservaat geëvalueer.
Wat doen Working on Fire?
Die Working on Fire-span verleen hulp by veldbrande in die Parys, Vredefort, Koppies en Sasolburg distrikte. Hoewel hulle nie opgelei is vir strukturele brande of die toerusting daarvoor het nie, is hulle van groot hulp by veldbrande, en beskik oor ‘n volledig toegeruste voertuig spesifiek vir veldbrande. Hulle bedien lede van die brandvereniging maar verleen ook hulp met veldbrande binne die Ngwathe munisipale gebied.
Die Working on Fire-spanleier is Samsone Zizo, en die span bestaan uit vyftien lede.
Hoewel die Working on Fire-span deur die regering befonds word vir salarisse, help bydraes van sakelui, organisasies en individue om die onkoste van brandstof en voertuigonderhoud te betaal.
Indien jy meer inligting wil hê oor die werksaamhede van die Vaal Eden Brandvereniging wat die Working on Fire-span bedien, kan jy ‘n e-pos na bbv@parys.co.za stuur.




