
Volgens die voedselvervaardiger Tiger Brands het beurtkrag nie net ‘n nadelige uitwerking op die land se ekonomie nie, maar beïnvloed dit ook mense se gesondheid aangesien dit mense hul eetgewoontes verander.
In baie gevalle duur kragonderbrkings meer as ses uur per dag en ook in die aande wanneer mense kos voorberei.
Beurtkrag beteken dat kos in yskaste en vrieskaste bederf en die gebrek aan krag beteken dat die voorbereiding van maaltye dikwels nie voltooi kan word nie omdat baie mense se oonde en stowe met elektrisiteit werk.
“Daar is toenemende bewyse dat beurtkrag Suid-Afrikaners se voedingskeuses beinvloed. Dit is nie goeie nuus vir ons gesondheid as ‘n nasie nie,” sê Karl Muller, die operasiebestuurder van Tiger Brands-stigting in ‘n verklaring.
“Ten spyte van die huidige ekonomiese verknorsing, bestee Suid-Afrikaners steeds ‘n aansienlike bedrag aan kitskos, met die vraag wat deur gerief en toeganklikheid aangedryf word. Volgens ‘n Allied Market Research-verslag is die grootte van die Suid-Afrikaanse kitskosmark in 2018 op $2,7 miljard gewaardeer en sal na verwagting $4,9 miljard teen 2026 bereik, wat ‘n saamgestelde jaarlikse groeikoers van 7,9% van 2019 tot 2026 registreer,” sê Muller.
“Die maklike verkrygbaarheid van kitskosprodukte beïnvloed ook die kosmaakgebruike van huishoudings. Die frekwensie waarmee mense self kos maak verminder dus terwyl mense se afhanklikheid van kitskosprodukte verhoog,” sê Muller.






