News

Bure help na vrou beroof en met mes gesteek is

Die rower het vir Klarisa Snyman (30) in die arm gesteek maar danksy haar kêrel en ander bure se hulp kon hy nie met haar besittings wegkom nie.

Wat ‘n normale staproete vir Klarisa Snyman (30) vanaf ‘n inkopiesentrum na haar huis toe moes wees het in ‘n ampere nagmerrie ontaard toe ‘n rower haar handsak wou steel en haar met ‘n mes in die arm gesteek het.

Die voorval het Vrydag (23 September) in Klinkenbergstraat omstreeks 17:30 plaasgevind slegs ‘n paar meter van haar huis in Bodensteinstraat in Vanderhoffpark.

Klarisa Snyman is op Vrydag, 23 September, met ‘n mes gesteek. Langs haar is haar droe bloed teen die sypadjie. Foto: Wouter Pienaar

Snyman vertel dat sy dadelik teruggeveg het toe die rower haar onkant betrap. Sy het benoud begin gil.

“Hy het my vir ‘n hele ruk agtervolg. Ek onthou dat hy geskree het “Gee my jou F****n handsak.” Ek en hy het baklei vir die handsak. My selfoon en beursie was ook daarin. Ek dink hy het my onderskat omdat ek klein gebou is. Omdat my kerel die handsak vir my gegee het as ‘n geskenk, wou ek nie los nie. Ek het toe begin gil met die hoop dat hy buite is om my te kan help,” noem sy.

Klarisa Snyman wys waar die vermeende rower haar met ‘n mes gesteek het.

Haar kerel, Daryl Schutte, (30) het toe dadelik gehardloop in die rigting van die gille waar hy Snyman bebloed gevind het. Hy het toe die man in sy werkstewels agterna in Burgerstraat gesit, maar kon hom nie betyds inhaal nie.

Die man het in die proses Snyman se handsak laat val en ook haar selfoon in die pad gegooi toe hy weghardloop. ‘n Man in ‘n ligte blou bakkie het ook verby die toneel gery en die man probeer agterna sit. Hy kon hom wel nie betyds vastrek nie.

Die rower is toe in die vlei in, in die rigting van die Trimpark.

Klarisa het baie bloukolle na die voorval.
Haar wond na die messteek op haar linkerarm.

Terselfdertyd het een van die nabye inwoners in Klinkenbergstraat, Johan Naudé, uit sy erf gehardloop toe hy Snyman se gille hoor. Hy het haar arm met sy broek se tou vasgebind om die bloeding te stop en haar bygestaan toe Schutte die man agterna gesit het.

“Sy wou huis toe hardloop, maar omdat ek self al met ‘n mes gesteek is weet ek dat jou hartklop laag moet bly. Ons het toe op die randsteen gesit terwyl ek haar bloeding onder beheer kry. Ek het vir Mooirivier Beskerming gebel om die voorval aan te meld sodat hulle vir die man kan uitkyk. Hulle het ook vir ER24 se ambulans gebel om haar na Potchefstroom Hospitaal te neem.”

Naude noem dat hy ook vol bloed was na die voorval. Sy meisie, Marié Minnaar, het ook kort na die voorval op die toneel gekom. Sy het die dief probeer soek en ook gehelp om Snyman te kalmeer.

Snyman het drie steke op die bokant van haar vel en vier steke binnekant haar vel gekry. Sy is ook vir klem-in-die-kaak ingespuit.

“Alles het so vinnig gebeur, ek is nou nogsteeds in skok. Ek het ook die eerste twee aande nagmerries gekry,” noem Snyman.

Sy is ook ongelooflik dankbaar vir almal se hulp in haar tyd van nood.

“Daryl is my held. Hy het so voete afgehardloop vir my, so ek is baie dankbaar vir hom. Ek waardeer almal se hulp en ek wil graag ook dankie sê vir Johan Jansen van Vuuren (buurman) en sy vrou, sowel as Johan Naudé en sy meisie, Marié Minnaar, wat my kom help het. Ek wil ook die oom bedank wat met sy blou bakkie die rower agterna gesit het,” vertel Snyman.

Snyman noem dat sy nou twee keer dink voor sy weer alleen stap. Sy het nie ‘n ander vorm van vervoer nie en verduidelik dat sy al gereeld die roete gestap het om inkopies te doen.

“‘n Mens moet net baie bewus wees. Hierdie het helder oordag gebeur. Daar is ander mense wat ook vir my vertel het dat hulle ook al in die area beroof is. Ek is net bly dit het naby die huis gebeur. Dit kon baie anders gewees het.

Related Articles

Back to top button