News

Kabeldiewe steel lustig, maar groot kommer oor sake wat nie gerapporteer word

Tydens beurtkrag word gewoonlik ‘n toename in kabeldiefstal gesien

Ten spyte van die enorme verliese wat die Ngwathe munisipaliteit lei weens kabeldiefstal en sabotasie van sy kragnetwerk, word alle kabeldiefstalsake steeds nie gerapporteer nie.
Dit is verlede week tydens die maandelikse vergadering van die Gemeenskap Polisiëring Forum (GPF) gesê. Die gevolg van dié versuim van die munisipaliteit om verantwoordelikheid te neem vir sy eiendom, beteken dat polisiëring in probleemareas nie gedoen kan word nie.
Die aanmeld van sake by die polisie help juis om misdaadpatrone te bepaal waarvolgens polisiëring dan gedoen kan word.
Tydens beurtkrag word gewoonlik ‘n toename in kabeldiefstal gesien, en is die gebied rondom die hospitaal, by die Eskom-substasie, en die nywerheidsgebied tans probleemareas waar die meeste kabeldiefstal gesien word.
Verlede week weer is 1 meter se kabel teen ‘n paal in Brownstraat geknip. Die modus operandi van kabeldiewe is dikwels om op een plek kabel te knip om die aandag af te lei, en dan op ‘n ander plek kabel te steel.
Gazette het ná die vergadering die Ngwathe uitvoerende burgemeester, rdl. Victoria de Beer, gevra waarom kabeldiefstal nie altyd gerapporteer word nie. Sy het onderneem om terugvoer te gee wat geplaas sal word sodra dit ontvang word.
Onthou as jy enige verdagte beweging of persoon in jou woonbuurt, by kragpale of substasies sou opmerk, moet jy dit ook sonder versuim aan die polisie of jou sekuriteitsmaatskappy rapporteer. Geen inligting wat deurgegee word is waardeloos nie.
Die polisie waarsku ook dat die diefstal van bankkaarte by OTM’s steeds voorkom. Dit gebeur veral wanneer sekuriteitswagte nie meer aan diens is nie.
Jy moet onthou dat jy ONDER GEEN OMSTANDIGHEDE hulp van ‘n vreemde persoon by ‘n OTM kan aanvaar nie. As jy sukkel om jou bankkaart in die kaartgleuf te kry, is daar waarskynlik met die OTM gepeuter. Moet dan nie ‘n ander OTM in die nabye omgewing gaan probeer nie.
Kaartdiewe teiken gewoonlik meer as een OTM in dieselfde omgewing. Wees ook versigtig om verkieslik nie ‘n OTM te gebruik wanneer jy die enigste persoon by die OTM is nie, veral na-ure en saans. Dit maak van jou ‘n sagte teiken.
Die afgelope week is daar ook weer mense met ‘n slap riem gevang met bedrog op sosiale media platforms.
Onthou as iets té goed klink om waar te wees, is dit waarskynlik nie die waarheid nie.
Wees versigtig wanneer jy aanlyn iets wil koop wat jy nie gesien het nie, nie die verkoper ken, of enige agtergrond van hom/haar het nie, of waar herhaaldelik gevra word dat jy eers geld moet oorbetaal of jou bankbesonderhede moet gee. Dié bedrieërs is uitgeslape, en soek jy hulle agterna om jou geld terug te kry, is hulle skoonveld.
In die jongste voorval is ‘n deposito vir ‘n motor betaal wat op Facebook geadverteer is. Die storie was dat sou die deposito betaal word, die motor nie op veiling verkoop sal word nie. Nadat die deposito betaal is, moes die niksvermoedende kliënt hoor dat die motor toe tog op veiling verkoop gaan word, ten spyte van die deposito. Toe word daar vir nog geld gevra. Nodeloos om te sê – dit was die laaste sien van die motor en die deposito.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button