Getroud met Rugby se ‘tannie Koekie’ sorg vir lekker skaterlag
Rina wat in menige huis bekend en geliefd was as die gesig van 'tannie Koekie' in die TV-sepie, Getroud met Rugby, het haar gehoor van meet af aan die lag gehad met haar kwinkslae, en het haar stem vir baie mooi herinneringe opgeroep van die bekende Heidi-kinderverhaal, waarin haar stem gehoor is as die karakter, Peter.

Meer as honderd gaste het 24 Junie ‘n gesellige Sprankel Winter Tee met gasspreker Rina Nienaber by Najaarsrus bygewoon. Dit is deur Solidariteit Helpende Hand se vrywilliger tak aangebied en geborg deur Avbob.
Rina wat in menige huis bekend en geliefd was as die gesig van ‘tannie Koekie’ in die TV-sepie, Getroud met Rugby, het haar gehoor van meet af aan die lag gehad met haar kwinkslae, en het haar stem vir baie mooi herinneringe opgeroep van die bekende Heidi-kinderverhaal, waarin haar stem gehoor is as die karakter, Peter.
Daar is ook luister aan die oggend se verrigtinge gegee met die pragtige sopraanstem van Lizette Combrink.
Kobus Venter, takbestuurder van Solidariteit Helpende Hand van Bloemfontein het die oggend meer kom vertel oor die geskiedenis van Solidariteit Helpende Hand, en die doel van die organisasie. Geleentheid is daarna gegee vir persone 80 jaar en ouer om hul gegewens in te vul, sodat daar op‘n later stadium aan hulle ‘n sertifikaat vir erelidmaatskap oorhandig kan word.
‘n Verskeidenheid van sop en varsgebakte brood, het die winterkoue weggedryf, en is daar gesellig om die tafels gekuier met koffie, tee en koeksisters.
Taklede het ook gesorg dat elke gas bederf is met ‘n handgemaakte geskenkie, en het drie gelukkige wenners elkeen ‘n pragtige blommerangskikkings huis toe geneem. Die ruikers is geborg deur Avbob Parys, wat ook die oggend ‘n bekendstelling deur Pam Appelgryn en Johan Dias, aangebied het. Solidariteit Helpende Hand sê dankie aan elke gas wat die oggend bygewoon het, past. Christiaan Broodryk vir die opening, en elkeen wat op verskeie maniere bygedra het om van die oggend ‘n sukses te kon maak.

Wat doen Solidariteit in gemeenskappe:
Solidariteit het in 1902 begin, met Helpende Hand wat in 1949 as maatskaplike been van Solidariteit bygevoeg is.
Sedertdien het verskeie organisasies en instansies tot stand gekom onder die sambreel van Solidariteit, waaronder AfriForum, Sol-Tech, Maroela Media, Akademia en ‘n Skole Ondersteuning Sentrum.
Helpende Hand fokus spesifiek op kinders, gesinne, persone met gestremdhede en ouer persone.
Met verskeie projekte word daar uitgereik in gemeenskappe. Hieronder tel die Bemagtig ‘n kind projek wat voorskoolse ontwikkeling ten doel het. Die Skooltassie projek help jaarliks 5 000 graad 1 leerders, terwyl nagenoeg 8 000 kleuters in kleuterskole daagliks baat by die Kosblikkie projek.
Die Frouevonds help met projek Help Hetta om sanitere produkte onder dogters te versprei, terwyl ook gehelp word met droomrokke vir matriekmeisies wie andersins nie die voorreg sou gehad het om ‘n matriekafskeidrok te kon he nie.
Daar is opleidingsvennootskappe met maatskappye, die HelpHoor projek waar tweedehandse gehoorapparate ingesamel, gediens en gepas word. So ook ‘n projek vir Katarakchirurgie wat tans nog net in Pretoria beskikbaar is, maar waar mense wie dit andersins nie sou kon bekostig nie, teen verminderde koste gehelp word met katarakchirurgie.
Ander projekte sluit in Seniors in Aksie om reg oor die land ouer persone aan die beweeg te kry, opleidingsgeleentheid vir studente in tuisversorging, en die beskikbaar stel van studiefondse waarmee daar vanjaar 1 100 studente gehelp kon word om te studeer. Vir vanjaar se studiefonds projek is R50 miljoen beskikbaar gestel.
Solidariteit en Helpende Hand is ‘n honderd persent private inisiatief wat geen staatsubsidie ontvang nie.
Teen so min as R50 per maand wat gewone mense uit die samelewing bydra, word al hierdie verdienstelike projekte moontlik gemaak om mense te help, en te bemagtig.
Helpende Hand is aktief werksaam in die Parys-gemeenskap en is van die doelwitte waarvoor gewerk word is om onder meer ook vir Parys ‘n sterk gemeenskapstudiefonds op die been te bring om kinders wat geen ander finansiële ondersteuning het nie, te help om ‘n kwalifikasie te bekom.
Jy kan help hetsy deur jou bydrae of jou tyd om hierdie projekte in jou gemeenskap te ondersteun. Skakel Matty Last by 072 267 9758 as jy meer wil weet oor hoe jy kan help.



