Modulêre suiweringsaanleg kan waternood verlig, sê DA-raadslede
Te midde van droë krane en onvoorspelbare munisipale rotasie kragbeurte, sê DA-raadslede dat hulle onverpoosd veg vir 'n projek wat "byna onmiddellike verligting" vir Parys se waternood kan bring.

Dié raadslede wil hê dat die ‘Trident’ modulêre aanleg by die dorp se watersuiwingsaanleg weer in gebruik gestel moet word. Die aanleg is ‘n kompakte, semi-outomatiese aanleg wat sewe jaar gelede deel van Parys se watersuiwering geword het, en destyds teen ‘n koste van meer as R30 miljoen opgerig is.
DA-raadslede sê die aanleg sal tot 10 miljoen liter water per dag suiwer, wat in byna die helfte van Parys/Tumahole se waterbehoeftes kan voorsien.
“Aanvanklik is die gesofistikeerde aanleg met groot sukses vir Ngwathe deur ‘n onafhanklike kontrakteur bedryf,” sê DA-raadslid Saal de Jager, wat ook ‘n lid van die Ngwathe-raad se staande komitee oor Infrastruktuur is.
Hy sê die vorige munisipale administrasie het egter enkele jare gelede die kontrak laat verval, en die aanleg self begin bedryf met rampspoedige gevolge.
“Kortpaaie is gevolg, prosesbeheer is verwaarloos, en daar was gevalle van nalatigheid, selfs moontlike sabotasie.” Die aanleg het agteruit gegaan en is uiteindelik gesluit. Die aanleg staan nou reeds twee jaar in onbruik.
De Jager sê dat hy en kollegas die oorspronklike vervaardigingsagente opgespoor, en hul advies gevra het. “Hulle het deeglike ondersoeke kom doen, en sien kans om Ngwathe te waarborg dat drie weke na ondertekening van ‘n herstelkontrak, die herstelde aanleg reeds vyf miljoen liter water per dag sal kan suiwer,” sê rdl. De Jager.
Dit sou Parys se watervolume sterk verhoog met die bestaande (tradisionele) aanleg wat tans omtrent agt miljoen liter per dag suiwer wat minder as die helfte is van die kapasiteit wat die aanleg moet lewer.
So ‘n herstelkontrak is egter nog nie onderteken nie.
“Een rede was dat Ngwathe hulp met sy waternood aangevra het vanaf die Vrystaatse regering,” sê De Jager.
‘n Ander rede was dat Ngwathe onlangs geen direkteurs van Finansies of van Tegniese Dienste gehad het nie.
Waarnemende senior amptenare (insluitend ‘n waarnemende munisipale bestuurder) is egter verlede Donderdagoggend tydens ‘n spesiale raadsvergadering bekragtig.
Dit sterk die hand van Ngwathe se uit- voerende burgemeester rdl. Victoria de Beer, om die waternood vinniger te kan hanteer, word gesê.
Rdl De Jager sê dat hy en sy DA kollegas daagliks daarvoor veg.
.



