Laaste groet vir groot avonturier en oud Judo-kampioen
Albert sal met tere herinneringe onthou word deur sy twee oorlewende kinders, Albert Jr en Rihetta, en familie.
Vir Parysenaars was Albert van Zyl nie net ‘n bekende besigheidsman nie, maar sinoniem met die judoklasse wat hy vir jare in die dorp aangebied het. ‘n Vaderfiguur vir baie en iemand wat op sy dag self SA ligswaargewig kampioen in dié sport was.
Albert is op 2 November op 92-jarige ouderdom aan orgaanversaking oorlede. Die troosdiens word Donderdag 9 November by die Sonskyn-tehuis in Eerstelaan gehou.
Albert het destyds in die laat sestigerjare van Rustenburg na Parys verhuis. Na 17 jaar by Eskom het hy hier die besigheidswêreld kom betree. Aanvanklik het hy die destydse Mariann Droogskoonmakers in Eerstelaan gehad, en later Electro Star en Mariann Elektries waar hy vir dekades saam met sy seun, Jaco, gewerk het, Ook in die boeregemeenskap was hy bekend vir die Alfa Laval melkmasjiene wat hy gediens het.
Albert was sy lewe lank ‘n man wat nie ‘n kans op ‘n avontuur sou mis nie. As jongman het hy met werk-passate op die skepe en sonder ‘n sent geld, oor die hele Europa getoer. Sy reise het hom na Vickers in Brittanje geneem waar hy elektriese toerusting ontwerp het, stofsuiers gesmous het, en selfs Judo by die polisie in Brittanje afgerig het. Hy was tot by Galway Bay in Ierland, en het toe meer as 20 000 kilometer in Amerika geryloop. In Kanada het hy by telegraafdienste gewerk, en selfs telefoonpale in Alaska geplant.
Uiteindelik het hy sy anker weer in sy geboorteland laat sak toe hy die liefde van sy lewe ontmoet het. Eers toe hy in sy tagtigs was, het hy afgetree na ‘n kortstondige skrikbewind agter die Isuzu se stuurwiel, vertel sy seun, Albert Jr.
Hy was ‘n rots vir sy familie, ‘n man van vele talente, hardwerkend, standvastig, eerbaar en met ongelooflike deursettingsvermoë. ‘n Familiemens, wie se liefde en deernis vir sy vrou en kinders raakgesien is. Ook in haar stryd met kanker tot 1988.
In sy huldeblyk aan Albert skryf Saal de Jager: “As jong tiener van 1966 tot 1969 was Albert van Zyl seker die belangrikste persoon in my lewe. Hy het my geleer om nooit op te gee nie, en hoe belangrik dit is om gefokus te bly. Om in daardie jare ‘n swart gordel, en sommer drie van hulle te kon hê, was geen geringe prestasie nie. Oom Albert het my die rubberman genoem vanweë my vermoë om myself uit die meeste grepe uit te wikkel. Sy invloed op my as mens sal ek altyd saam met my dra. Dankie oom Albert. Slaap nou saggies, jou stryd op aarde is nou verby.




