Toename in plundering van geskiedkundige erfenisbakens
Volgens Charles Rademeyer, kultuurkoördineerder van die FAK, is dit heel moontlik dat moetiejagters agter die jongste voorval van vandalisme by Kerkenberg sit.
Die plundering en vandalisering van geskiedkundige erfenisbakens landwyd is besig om ongekende afmetings aan te neem. Beelde word onthoof en selfs menslike oorskot ongeërg deur vermeende moetiejagters opgegrawe, sê die Federasie van Afriklaanse Kultuurverenigings (FAK) na die jongste voorval waartydens ’n reusegat aan die voet van die historiese Retiefklip by Kerkenberg in KwaZulu-Natal gegrawe is Die glaskassie wat die beskilderde rots beskerm is ook oopgebreek, en die brons nasionale gedenkwaardigheidteken gesteel.
Volgens Lizette Jansen, bestuurder van die Erfenisstigting (ES), kon daar blitsig met die hulp van die Federasie van Afrikaanse
Kultuurvereniginge (FAK) en die Kerkenberg Geloftefeeskomitee ingegryp word om hierdie onvervangbare erfenisbaken te begin herstel, sodat dit vir die nageslag behoue kan bly.
Kerkenberg, wat deur die ES besit en bestuur word, is die plek waar die Voortrekkerleier Piet Retief se trek gedurende Oktober 1837 oorgestaan het terwyl hy Dingaan die eerste keer besoek het. Sy dogter, Deborah, het haar pa se naam op sy verjaarsdag teen een van die rotse opgeteken – ’n historiese, menslike datering wat reeds vir dekades sorgvuldig bewaar word.
Kerkenberg is ook deur dié trekgeselskap as ’n kerk gedurende hierdie tydperk gebruik.


Dié erfenisterrein is dus van ongekende belang vir die Afrikaner op ’n sosiale, historiese en geestelike vlak, sê die FAK. Volgens Charles Rademeyer, kultuurkoördineerder van die FAK, is dit heel moontlik dat moetiejagters agter hierdie misdaad sit. “Daar is
duidelike tekens dat daar na oorskot, vermoedelik dié van Piet Retief, gesoek is.
“As jy na die kerse kyk wat gebruik is, die handskoene en veiligheidskoene wat gedra en agtergelaat is, dui dit op die handewerk van geslepe, professionele misdadigers, nie iemand uit die plaaslike gemeenskap nie,” meen hy. Wanneer iemand ’n gat hier grou, beskadig hulle nie net ’n klip nie – hulle kloof die hartswortels van ons geskiedenis oop. Dit is nie net ’n misdaad teen ons erfenis nie – dit is ’n aanval op wie ons is,” sê Rademeyer.
“Om erfenisterreine soos dié vir die volgende geslag te bewaar, kos baie geld. Ons moedig gemeenskappe aan om eienaarskap van hul erfenis te neem en tot bewarings- en reddingsaksies soos dié, wat reg oor die land deur die FAK se kultuurnetwerke gedryf word, by te dra,” sê Rademeyer.



