Vrede van Vereeniging so onthou
Met dié dat vanjaar se toer op ’n Saterdag geval het, kon heelwat meer mense as gewoonlik die toer meemaak. Ná afloop van die toer kon almal heerlik saam in die FAK-Liedjietuin kuier.
“Ons onthou die Vrede van Vereeniging vandag nie net as ’n dokument nie, maar as ’n keerpunt in die geskiedenis. Ons onthou die ondertekenaars, maar ook die onbekende vrou met ’n sterwende kind in haar arms in die kamp. Ons onthou die oupa wat sy seun moes begrawe. Ons onthou die terugkeer na afgebrande en verwoeste plase. Ons onthou … maar ons staan op.”
Só vertel Ziegfried van Huyssteen, bedryfshoof van die FAK, oor die onlangse herdenking van dié Vrede an Vereeniging wat met ‘n besondere vredestoer gevier is. Die sewe punte wat tydens vanjaar se Vrede van Vereeniging-toer besoek is, het elkeen ’n belangrike en unieke storie om te vertel.
Met dié dat vanjaar se toer op ’n Saterdag geval het, kon heelwat meer mense as gewoonlik die toer meemaak. Ná afloop van die toer kon almal heerlik saam in die FAK-Liedjietuin kuier.
Daar het wel ’n wolk oor die teenwoordiges se gemoed gehang weens die afsterwe van oom Freddie Pieters in November verlede jaar. Hy het hierdie toer in 2020 begin en dit het
sedertdien ’n jaarlikse instelling geword.
Die toer het bestaan uit lede van die Verref-krieketklub; die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Vaal-Kultuurnetwerk; Koester ons erfenis Vaal (KOEF); Die
Voortrekkers; Bittereinders; Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA); asook die FAK se kultuurnetwerk in die noordelike provinsies en Midvaal plaaslike munisipaliteit, wat in
verskeie hoedanighede ’n rol speel om die terreine te onderhou en te bevorder.

Op ’n bitterkoue Saterdagoggend, op die belangrike dag van 31 Mei, het tientalle ondersteuners en belangstellendes van die Anglo-Boereoorlog by die Verref-krieketveld in Vereeniging bymekaargekom om die Vrede van Vereeniging-herdenkingstoer mee te maak. Koffie en beskuit was welkom om die koue te verdryf. Kranse is by die Vredesboom gelê – die boom waar die onderhandelings plaasgevind het om die uitmergelende Anglo-Boereoorlog van 1899 tot 1902 tot ’n einde te bring.
Daarma is by die Vredesmonument in Lesliestraat in die middedorp van Vereeniging aangedoen.. Charles Rademeyer, die toerorganiseerder en die FAK se kultuurnetwerkkoördineerder in die noordelike provinsies, vertel die woorde op die monument, “Gewond maar onoorwonne”, is sprekend van vanjaar se toer, “waar ons sonder die stigter van hierdie inisiatief steeds
voortgaan om hierdie belangrike gebeurtenis te herdenk.” Op die foto is toerlede voor die Vredesmonument.

Die derde stop was die Boerekonsentrasiekampbegraafplaas in Vereeniging, waar kranse van onthou gelê is.
Oom Peet Schabort van die Vaal-Kultuurnetwerk het die gedig, “Dis al”, deur Jan F.E Celliers voorgedra en ’n gedramatiseerde weergawegegee van wat tydens die Anglo-Boereoorlog in
hierdie konsentrasiekamp gebeur het.


Kobie Ströh van die Vaal-Kultuurnetwerk verduidelik en wys hoe die daaglikse rantsoen in die Vereeniging-konsentrasiekamp gelyk het.
Daar is by die Witkop-blokhuis by die Engen-motorhawe in Meyerton, langs die R59, aangedoen. . Dit is een van die min oorspronklike blokhuise in die land wat oorgebly het.
Roxy du Toit het die storie vertel van die Witkop-blokhuis. Sy is al 13 jaar besig om met erfenisowerhede te werk om hierdie blokhuis te red.

Besoek is ook gebring aan die Russies-Ortodokse kerk in Midrand, waar ’n seremonie gehou is by die gedenksteen wat opgerig is vir die 250 Russiese vrywillige soldate wat aan die Anglo- Boereoorlog deelgeneem het. Ook is daar gesels oor die vyf swemmers, die vyf Boerekrygsgevangenes wat deur ’n Russiese skip opgepik is toe hulle van Ceylon probeer ontsnap het.

Vader Daniil Lugovoi hou ’n seremonie ter herdenking van die samewerking tussen Rus en Boer tydens die Anglo-Boereoorlog.


Melissa Lindeque, kurator van Ditsong-museums, vertel die storie van die welgestelde Heys-familie wat die vredesproses in hulle huis gefasiliteer het.
Die groep het tydens die toer by Melrose-huis in die middestad van Pretoria gestop. In hierdie huis is vir agt dae onderhandel voor die Vredesverdrag om 23:05 op 31 Mei onderteken is, wat die Anglo-Boereoorlog beëindig het.
Daar is ook besoek gebring aan die Vrou-en-kinderbeeld by die Voortrekkermonument, waar Charles Rademeyer ’n inspirerende boodskap gelewer het.



