“Om afsluiting vir families te bring is die lonendste deel van my werk”
Jong konstabel se toewyding gaan nie ongesiens verby nie.
Wanneer tragedie in die water toestaan is die 28-jarige knst. Monica Delport nie iemand wat op haar laat wag nie. Sy spring letterlik in die water om treurende families te help antwoorde kry wanneer hul grootste vrese waar word.
Gestasioneer by Zamdela Landelike Veiligheid in die Vrystaat, het Monica stil-stil een van die betroubaarste helpende hande geword in van die provinsie se mees hartverskeurende soek- en herwinningsoperasies ná ‘n verdrinking.
In die koue, troebel water van die Vaaldam en omliggende riviere is haar rol duidelik: bring afsluiting vir dié wat agterbly.
Delport het in Sasolburg grootgeword, omring deur ’n sterk diensgees. Haar pa, ’n gerespekteerde polisieman, en haar tannie, ’n lid van die elite K9 Parlementêre Eenheid in Kaapstad, was konstante herinneringe dat ’n lewe van diens aan ander ’n lewe van waarde is. Hierdie inspirasie het haar in 2019 aangespoor om by die SAPD aan te sluit.
Vandat sy haar eerste tree in die Graaff-Reinet Opleidingskollege gesit het, het sy uitgestaan—nie net vir haar vasberadenheid nie, maar vir haar dissipline. Sy is as Beste Algehele Student aangewys en het ook die titel as Fiksste Vroulike Rekruut verwerf—prestasies wat die fondament vir ’n uitdagende pad sou lê.
Na diens op die voorgrond van gemeenskapsklagtes by Zamdela CSC, het Monica gevoel sy is geroep tot meer—om te gaan waar min ander kan of wil. In 2021 het sy uit haar eie sak betaal vir ’n Oopwater-duikkursus. Die volgende jaar het sy haar Gevorderde Duik-sertifikaat verwerf. Tydens ’n operasie oor bedreigde spesies by die Vaaldam in 2022, het sy die SAPD se Duikeenheid ontmoet en haar belangstelling uitgespreek.
Haar toewyding het nie ongesiens verbygegaan nie. Stadig maar seker is sy by amptelike operasies betrek, en nou, as ’n leerderduiker, speel sy ’n kritieke rol om vermiste persone huis toe te bring.
Maar sy het nie daar gestop nie. Vasbeslote om elke aspek van wateroperasies te ondersteun, het Delport weer uit haar eie sak betaal om ’n skipperslisensie te kry—en sedert Maart vanjaar het sy die bevoegdheid om SAPD-vaartuie in soek- en reddingsoperasies te bestuur.
“Om afsluiting vir families te bring is die mees lonende deel van hierdie werk,” sê knst. Delport. “Wanneer jy daar onder is en jy kry wat jy soek—dis emosioneel, maar ook ’n soort vrede. Jy weet jy het iets gedoen wat werklik saak maak.”


Delport mik nou na dieper water by die SAPD se K9 Soek- en Reddingseenheid, waar sy hoop om haar duikvermoë te kombineer met die vaardighede van die K0-span om nóg meer lewens te red—of om vermistes te help vind.
Maar vir nou is dit haar eie K9-metgesel, Kenai, ’n kruisras-reddingshond, wat aan haar sy is

Haar reis is ’n getuienis van toewyding, geloof en vreeslose diens. Vir dié wat haar voetspore wil volg, bied sy hierdie opregte raad: “Vertrou op God in alles wat jy doen. Hy het ’n plan vir jou lewe en sal jou lei na waar jy nodig is.”
Of dit op land is of onder die water, knst Monica Delport staan uit —nie vir erkenning nie, maar vir die mense wat haar die meeste nodig het.



