Local newsNews

Probleemdiere – wat staan grondeienaars te doen

Roofdiere kompeteer al eeue lank met die mens, en gebruik grondeienaars verskillende metodes om hul vee en wild teen roofdiere te beskerm. Een van die beste maniere om predasie te verminder is om genoeg natuurlike prooi beskikbaar te hê – veral klein soogdiere. Wanneer natuurlike prooi afneem, wend roofdiere hulle tot vee of wild in …

Roofdiere kompeteer al eeue lank met die mens, en gebruik grondeienaars verskillende metodes om hul vee en wild teen roofdiere te beskerm. Een van die beste maniere om predasie te verminder is om genoeg natuurlike prooi beskikbaar te hê – veral klein soogdiere. Wanneer natuurlike prooi afneem, wend roofdiere hulle tot vee of wild in kampgebiede.

Elektrifisering van heinings, tesame met ondeurdringbare klip-rande, is effektief teen jakkalse, maar lenige klimmende roofdiere soos luiperds en karakale is moeiliker om uit te sluit. Vir sommige grondeienaars is die aanhou van wild wat groter is as plaaslike roofdiere selfs ook ‘n goeie strategie.

In die Noordwes-provinsie is jakkalse die mees prominente roofdiere wat vee en wild aanval, terwyl blou ape, rooikatte en jakkelse grondeienaars in die Vredefort Koepel, Kopjeskraal- en Fochville-omgewings, die meeste kopseer gee. Dié diere asook die bosvark word in die Natuurbewarings Ordonansie 12 van 1983 as probleemdiere geklassifiseer, wat in effek beteken dat ‘n grondeienaar die diere kan skiet of vang sonder dat ‘n permit nodig is, in gevalle waar die dier besig is om skade aan te rig aan lande of vee.

Die ordonansie verwys dan ook in Artikel 56 en Bylaag 8, spesifiek na bobbejane as probleemdiere, en geld alle bepalings wat van toepassing is op probleemdiere, ook vir bobbejane. Daar is egter duidelike riglyne wat grondeienaars moet volg wanneer dit by probleemdiere kom, en moet grondeienaars volgens wet natuurbewaring in kennis stel as daar ‘n roofdier is wat ‘n probleem veroorsaak.

Die departement sal dan die nodige ondersteuning bied sodat ‘n vanghok opgestel kan word. As ‘n grondeienaar self die probleemdier in ‘n vanghok gevang het, moet die departement steeds gekontak word om die dier te kom haal.

Benewens jakkalse, blou ape, rooikatte en bosvarke, word geen ander dier as probleemdier volgens natuurbewaringsordonansies geklassifiseer nie. As grondeienaars probleme met ander wildspesies op hul grond het, moet die departement gekontak word sodat ‘n jag- of vangpermit in gevalle waar daar meriete is, aanbeveel kan word.

Grondeienaars wat nie-dodelike metodes gebruik, soos vee-bewakingsdiere (bv. honde of donkies), het al groot sukses behaal in die vermindering van verliese, sê John Power, ‘n terrestriële ekoloog van die Noordwes-provinsiale regering. Hy verduidelik dat menslike herderskap ook effektief, maar duur kan wees.

Statistiek van 2023 het gewys dat sowat 12% van verliese aan vee en wild in die Noordwes deur luiperds veroorsaak is. Rooikatte (karakale) was op hul beurt verantwoordelik vir 20% van die predasie in die hele provinsie.
Min klagtes oor probleemdiere word van grondeienaars in die Vredefort Koepel wêrelderfenisgebied gekry. Een van die Koepel se suksesverhale met probleemdiere, is egter dié van ‘n rooikat wat in 2024 uit die Vredefort Koepel na die Faan Meintjies Natuurreservaat in Klerksdorp geskuif en hervestig kon word met die hulp van beamptes van die Noordwes Departement van Ekonomiese Ontwikkeling, Bewaring en Toerisme.

Die sukses was grotendeels te danke aan ‘n insiggewende praatjie en lewendige bespreking oor die bestuur van roofdiere wat in September 2023 deur Power vir Koepel Bewarea-lede gehou is. Voor die praatjie was daar min skakeling tussen die departement en grondeienaars, en is die uitnodiging aan grondeienaars gerig om met die departement te skakel vir advies en ondersteuning met onder meer identifisering van roofdiere, maar ook hervestiging.

Na die praatjie het dr. Jan Bastiaan Fouche, ‘n veearts van Parys, wat ook by die praatjie was, te hore gekom van ‘n probleem rooikat op ‘n plaas aan noordwes-kant van die Koepel toe hy die grondeienaar vir ‘n veeartsverwante uitroep besoek het. ‘n Hok is uitgesit en met die samewerking van Siyabonga Mseleku, die departement se spesialis in skade veroorsakende diere, en dr. Fouche kon die hervestiging suksesvol gedoen word.

Wat belangrik is, en wat ook deur Power beklemtoon is, is dat die besluit van hervestiging altyd versigtig oorweeg moet word. Hoewel nie altyd ideaal nie, is dit steeds ‘n stap weg daarvan om ‘n dier van kant te maak.
Die Noordwes Departement van Ekonomiese Ontwikkeling, Bewaring en Toerisme bedien ‘n wye gebied wat strek van Potchefstroom tot by Vryburg, en sluit die noordwes-kant van die Vredefort Koepel in. Die department is onder meer nou gemoeid met bewusmaking en bewaringsopvoeding.

‘n Rooikat in ‘n vanghok.

Verskeie hervestigings van veral luiperds en die bruin hiëna is al gedoen, meestal in die Vryburg area, maar was skakeling met Vrystaatse grondeienaars in die verlede beperk.
Grondeienaars is welkom om Siya in die verband by 061 478 5931 te skakel, of stuur ‘n e-pos na SMeseleku@nwpg.gov.za

Bobbejane in die Koepel
Die Vredefort Koepel Bewarea het ‘n Vredefort Biodiversiteitsprojek waarmee onder meer gekyk word na die konflik tussen grondeienaars wat betref landbou aktiwiteite, en bobbejane in die Koepel. Dit sluit ook in die moontlike impak wat die bobbejane het op die voëlgetalle en spesies in die Vredefort Koepel.

Tans word opnames in die Koepel gedoen ten opsigte van bobbejaangetalle, troppe en verspreiding van die bobbejane; asook die impak van die troppe op landbou aktiwiteite en voëlspesies. Hiervoor word die samewerking van grondeienaars gevra om inligting te voorsien wat gebruik kan word om toekomstige bestuursbesluite te kan neem.

Ondersteuningsfoto’s of video’s sal van groot waarde wees. Inligting kan aan Gustav Engelbrecht gestuur word by 072 130 1995 / gengelbrecht@nwpg.gov.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button