Moenie dat spierkrampe jou onder kry nie
envoudige leefstylveranderings kan help om hierdie steurende spasmas te voorkom en te bestuur.

Baie glo dat spierkrampe iets is wat net met ouderdom gebeur, of as jy jou liggaam tot die uiterste toets. Die waarheid is dat enigiemand spierkrampekan kry– van tieners tot top atlete.
“’Spierkrampe gebeur wanneer ’n spier onwillekeurig saamtrek en nie weer ontspan nie,” verduidelik Selvan Naicker, handelsmerkbestuurder van CrampEase®. “Dit kan ’n paar sekondes tot minute duur, en word dikwels veroorsaak deur dehidrasie, voedingstekorte, oorbenutting, moegheid, swak bloedsirkulasie of selfs onderliggende mediese toestande.”
Die meeste van ons ken die pyn van ’n skielike kuitspierkramp in die middel van die nag, of ’n nekspasma van te lank afkyk op ’n rekenaarskerm. Die goeie nuus? Eenvoudige leefstylveranderings kan help om hierdie steurende spasmas te voorkom en te bestuur. Om gehidreer te bly, ’n gebalanseerde dieet te eet wat ryk is aan noodsaaklike minerale soos kalsium, magnesium, natrium en kalium, gereeld te strek en elektrolietbalans te handhaaf, kan ’n groot verskil maak. Boonop help massering en hitteterapie om krampe te verlig wanneer dit voorkom.
Spierkrampe diskrimineer nie op grond van ouderdom nie. Al ervaar ouer volwassenes dit meer weens spierverlies en swak bloedsirkulasie, is jonger mense net so vatbaar.
Tieners en jong volwassenes ervaar dikwels spierkrampe as gevolg van vinnige groei, wat spiere styf maak en spasmas kan veroorsaak. Atlete kry krampe ná intense oefensessies, waar hulle sleutel-elektroliete soos natrium, magnesium, kalsium en kalium met sweet verloor. Swak hidrasie – veral deur die gebruik van energiedrankies, kafeïen en onvoldoende waterinname – dra ook by tot spierprobleme.
Volwasse persone wat lang ure by ‘n lessenaar werk, kan swak bloedsirkulasie ontwikkel wat tot krampe kan lei. Stres en slaaptekort speel ook ’n rol, aangesien die senuweestelsel direk spierfunksie beïnvloed. Naweekatlete – insluitend gimnasiumgangers, hardlopers en fietsryers – druk hul spiere soms te hard, wat lei tot oefening-geïnduseerde spierkrampe. Deur genoeg water te drink en na jou liggaam te luister, kan jy baie van hierdie probleme voorkom.



