Local newsNews

Besluit was geneem – raadsitting net ‘n ‘rookskerm’, sê DA

Die Vrystaatse Hoë Hof het in 'n geskiedkundige uitspraak nie net ingryping van die provinsiale regering by die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit beveel nie, maar ook beveel dat elke drie maande in die hof verslag gedoen moet word oor vordering met 'n herstelplan. Die beslissings kan egter nie nou tot uitvoer gebring word nie totdat die hof besluit het oor 'n aansoek om verlof tot appèl wat deur die munisipaliteit tot die hof gerig is.

Terwyl Ngwathe raadslede Woensdag onder die indruk was dat daar tydens ‘n spesiale raadsitting besluit sou word oor of dié munisipaliteit gaan appèleer teen ‘n uitspraak van die Vrystaatse Hoë Hof vir provinsie ingryping by dié munisipaliteit, was die aansoek om verlof tot appèl in der waarheid al ‘n dag tevore by die Hoë Hof in Bloemfontein geliaseer.

Dit het aan die lig gekom uit ‘n hofdokument nadat Ngwathe se uitvoerende burgemeester kort voor die raadsitting Woensdagmiddag nog bevestig het dat die Raad ‘n besluit in dié verband moet neem, en gemeenskapslede buite die Forum-gebou bymekaar was juis om te vra dat die  munisipaliteit die gemeenskap se belange eerste sal stel.

Die Raad het egter wel  Woensdagmiddag gestem oor die kwessie, en het slegs  ANC-raadslede ten gunste van ‘n aansoek om verlof tot appèl gestem. Die EFF het buite stemming gebly.

Die DA het na die raadsitting gesê hy veroordeel die ANC se blatante misbruik van die Ngwathe Munisipale Raad ten sterkste, deur die raad te gebruik om ’n besluit wat reeds agter geslote deure geneem is, bloot ‘af te stempel’.

DA-raadslid Carina Serfontein sê slegs die kwessie oor aansoek om verlof tot appèl was op die agenda.  “Tot ons skok het ons verneem dat die ANC-beheerde munisipaliteit reeds op 24 Junie die appèlaansoek ingedien het — ’n volle dag voordat die raad vergader het. Dit bevestig dat die vergadering niks meer as ’n rookskerm was nie, ’n Poging om ’n voorafbepaalde besluit te legitimeer sonder om die behoorlike proses te volg, of deursigtige konsultasie met alle raadslede te voer,” sê Serfontein.

Serfontein het dit benadruk dat dít nie is hoe ’n grondwetlike demokrasie behoort te funksioneer nie, en beslis nie hoe hofuitsprake hanteer behoort te word nie.

‘n Beslissing oor die aansoek om verlof tot appèl was nog nie met die skryf van die berig gemaak nie.

Wat beteken die aansoek vir Ngwathe-inwoners?

Die liasering van ‘n aansoek om verlof tot appèl beteken dat regter Daffue se hofbeslissing nie tot uitvoer gebring kan word alvorens die hof nie ‘n beslissing oor die aansoek gemaak het nie.

Gemeenskapslede buite die Forum-gebou waar Woensdag gewag is op terugvoer na ‘n spesiale raadsitting oor die hofbeslissing.

Wat het die hofbeslissing wat verlede week gemaak is bepaal?

Regter J.P. Daffue het verlede week in die Hoë Hof in Bloemfontein in die guns van AfriForum beslis toe hy gesê het die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit kom nie sy grondwetlike, wetlike en administratiewe verpligtinge teenoor die inwoners van onder meer Parys, Heilbron, Koppies en Vredefort na nie.

In sy uitspraak het hy bepaal dat die Ngwathe munisipale raad in terme van ’n gestruktureerde hofinterdik moet ontbind. Die Vrystaatse provinsiale regering moet ook ingevolge die hofuitspraak met onmiddellike effek by dié munisipaliteit ingryp.

Daffue het benadruk dat die munisipaliteit en sy raad disfunksioneel is en dat provinsiale regeringsdepartemente, en die LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (SRTS) in die besonder, versuim het om in ooreenstemming met die grondwet by die munisipaliteit in te tree. Hy het daarop gewys dat dié saak ’n geskikte geval is waarby die hof die rol as waghond moet speel.

Kragtens Daffue se uitspraak moet die Vrystaatse premier, die provinsie se uitvoerende raad en die ander betrokke respondente in die saak nou binne die raamwerk van artikel 139(5)(a) en (b) van die Grondwet:

  • ’n herstelplan implementeer om dienslewering te herstel en toe te sien dat die munisipaliteit sy finansiële verpligtinge nakom;
  • die Ngwathe- munisipale raad ontbind en ’n administrateur aanstel totdat ’n nuwe munisipale raad verkies kan word; en
  • ’n tydelike begroting, inkomste-genererende maatstawwe of enige ander maatstawwe goedkeur wat uitvoering sal gee aan die herstelplan.

Die hof het verder beveel dat die premier van die Vrystaat sowel as die uitvoerende raad en die LUR’e vir SRTS, Finansies en Ekonomiese, Kleinsakeontwikkeling, Toerisme en Omgewingsake elke drie maande, onder eed en skriftelik, aan die hof verslag moet doen oor die vordering in die implementering van die bevel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button