Local newsNews
Vakansie-verveeldheid: Hier’s idees om klein mensies besig te hou
Ongelukkig kan almal van ons nie see, na ’n vakansieoord of wildtuin gaan vir die vakansie nie en is Jan Tuisbly se karretjie dalk ook jou voorland, maar hier is tien pret-idees om die jongspan besig te hou.
Afrikaans.com se Annelie van Jaarsveldt het ‘n hele paar kreatiewe wenke vir ouers. Hier is haar tien wenke om kinders besig te hou, en weg van die televisie en rekenaars vir ure aaneen
Annelie beklemtoon egter pret moet altyd die wagwoord wees in alle aktiwiteite.
- Kry hulle aan die beweeg. Oefening is belangrik. Gaan stap of ry saam fiets as gesin. As jou tuin groot genoeg is, speel krieket of sokker in die agterplaas. Nie net raak almal fikser nie, maar dit verrig wondere vir die bloedsomloop en die gemoedstoestand.
- Hou piekniek in die tuin of slaan tent op in die agterplaas. Dit is ’n lekker manier om sonder veel uitgawes iets “anders” en prettig te doen – en jy hoef nie eers in te pak en ver te ry nie!
- Bak en brou. Daar is altyd plek vir koekies in die koskas. Maak koekies bak ’n dag van pret en plesier in die kombuis – selfs die skoonmaak agterna is ’n aktiwiteit! Of laat die kinders besluit wat is op die spyskaart en laat hulle help – kinders eet graag hul “eie” kos.
- Begin ’n groente- of kruietuintjie. Daar is min dinge so lekker as om te sien hoe daardie saadjie of plantjie wat jy in die grond gesit het, groei. En dis boonop iets wat nie “opraak” nie omdat die plantjies natgemaak en versorg moet word en uiteindelik geëet kan word. Raadpleeg die internet en jou plaaslike kwekery sal ook kan help om die tuin aan die gang te kry – al is jou tuin selfs kleiner as ’n kombuistafel, of ’n pot of twee op die stoep.
- Knip en plak. Party dae is die weer nie lekker vir buite speel nie. Dan is kreatiewe aktiwiteite die antwoord. Moenie daardie afval-karton, oorskietlappies, krale en blinkers weggooi nie en sorg dat daar gom, klei, ’n skêr, penne, potlode en verf in die huis is. Dalk kan hulle vanjaar Kersgeskenke maak, soos ’n mooi boekmerk, ’n yskasmagneet, of gee vir hulle wit koerantpapier of bruinpapier en laat hulle dit versier om as geskenkpapier te gebruik. Onthou jy nog aartappeldrukwerk? (Sny vorms uit ’n aartappel, druk in verf en dan op papier – maklik!)
- Gee terug aan die gemeenskap. Winston Churchill het gesê ons maak ’n bestaan deur aan andere te gee. Laat die kinders hul kaste/speelgoedkis uitpak en van hul speelgoed of boeke wat hulle ontgroei het, maar wat nog in ’n goeie toestand is, skenk aan instansies wat dit dan by die minderbevoorregte kinders kan aflaai. Eintlik word daar dan sommer twee vlieë met een klap geslaan, want daar word sommer reggepak ook. Of dalk kan hulle koekies bak en versier en dit by die plaaslike ouetehuis/kinderhuis gaan uitdeel. Baie van die dierebeskermingsverenigings is ook altyd dankbaar vir hulp.
- Skermtyd het ook sy voordeel. Rekenaarspeletjies, veral teen mekaar, bly lekker. Of hou ’n fliekaand en kyk saam na DVD’s. ’n Ideale tyd om daardie krismisbed op te maak. O, en moenie die bak springmielies vergeet nie!
- Speel bordspeletjies of hou ’n vasvra. Nie net is dit leersaam nie, dit is ook groot pret. So ’n vasvra kan ook oor die internet (Zoom) saam met familielede wat dalk ver woon, gehou word.
- Hou konsert. Laat die kinders hul eie konsert bymekaarsit. Daardie ou klere en mamma se krale is net die ding vir “opdress” vir hulle “verhoogproduksie”. Hulle kan selfs uitnodigings maak en die verhoog versier. Die konsert kan selfs opgeneem word.
- Laat hulle lees. Besluit saam hoeveel boeke julle die vakansie gaan lees – alleen of saam met jou. Strokiesprente is ook reg. Maak nou elke dag tyd vir lees. Dit is sekerlik een van die belangrikste en noodsaaklikste aktiwiteite waarmee jou kind hom-/haarself kan besig hou.
Lekker speel en mag jou kinders nie een oomblik verveeld wees nie!
Nog idees:
Vir nog wenke gaan kyk op Afrikaans.com se webtuiste by https://afrikaans.com/2023/10/25/leerhulp-vakansiepret-saam-met-jou-kinders/
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!



