Local newsNews

Voëlmis en verval waar rooi tapyt en dansvloer was

Een van Suid-Afrika se bekendste argitekte, Gordon Leith, het Parys se stadsaal ontwerp. Die historiese Bloemfontein stadsaal is ook sy ontwerp

Net minder as ‘n dekade gelede is raadslede van die eerste Ngwathe-raad in 2016 op die rooi tapyt in Parys se eens spoggerige stadsaal verwelkom. Van die rooi tapyt en spoggerige houtvloere waar troues, danse, fondsinsamelings en vergaderings gehou is, en selfs gestem is, is egter nou net vae herinneringe oor onder die dik laag voëlmis op die stadsaalvloer.

Die teenwoordigheid van voëlinfestasies, tesame met strukturele skade maak dié openbare fasiliteit onveilig en ongesond. Die gebreekte glas, rommel, en tekens van verval, is ‘n weerspieëling van langdurige verwaarlosing, swak instandhouding en ‘n gebrek aan politieke wil vir die bewaring van publieke infrastruktuur, meen die DA. Die party vra dat dringend ingegryp word om die verval van die stadsaal, waaroor lank gewaarsku is, reg te stel.

Waterskade

In 2019 is groot skade onder meer aan die saal se houtvloere aangerig toe swaar reën oor die dorp uitgesak het, en die stadsaal oop was vir kiesers om te kon registreer vir daardie jaar se nasionale en provinsiale verkiesing. Binne minute het reënwater op minstens vyf plekke deur die dak gestroom en op plekke tot 3cm diep op die houtvloer, gaan lê.

Ten spyte van vele pleidooie, selfs twee jaar voor die waterskade, kon die munisipaliteit nie tot aksie spring nie. Die gevolg was dat die stadsaaldeure mettertyd gesluit is vir veiligheid van die publiek, en die munisipaliteit ook die inkomste vir die verhuring van die saal verloor het.

‘n Dik laag voëlmis en vuil op die eens spoggerige houtvloere van Parys se stadsaal – ‘n gevolg van jare se verval

Die DA se raadslid Marie la Cock het in ‘n skrywe aan die munisipale bestuurder, dr. F.P Mothamaha, gevra dat die munisipaliteit die stadsaal dringend sal skoonmaak en saniteer. Omvattende assessering sal ook gedoen moet word om die stadsaal struktureel en esteties te herstel, en is ‘n volhoubare instandhoudingstrategie nodig.

Brand verwoes stadsaal

Parys se stadsaal is in die laat 1800’s gebou. In 1930 is die oorspronkike stadsaal in ‘n brand verwoes, en is verskeie geskiedkundige en ander dokumente ook in die brand vernietig.

Die stadsaal soos Parysenaars dit vandag ken is in 1936 deur die bekende Suid-Afrikaanse argitek, Gordon Leith, ontwerp in kontemporêre Art Deco-styl.

Die bekende Suid-Afrikaanse argitek, Gordon Leith was verantwoordelik vir die ontwerp van Parys se stadsaal.

Leith was ook verantwoordelik vir die ontwerp van die historiese Bloemfontein-stadsaal. Ook dié stadsaal het in 2017 groot skade gehad weens ‘n brand maar is sedertdien tot sy eertydse glorie herstel.

Senotaaf

Voor Parys se stadsaal is ‘n senotaaf ter nagedagtenis aan hulle wat in die distrik gevestig was, en in verskillende oorloë gesterf het. Met tyd is die koperplaat op die senotaaf gesteel en is dit met ‘n granietsteen, geskenk deur Chris Greeff, ‘n oudskolier van Hoërskool Parys, vervang.

Die plasing van die steen is gedoen deur Moth Johan de Vries en Gert Bezuidenhout in samewerking met Jan-Danie Malan van die Parys Kultuurnetwerk.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button