Brandbane – tyd raak min
Dit is belangrik dat jy sal kyk na die daaglikse vuurindeks waarop die moontlikheid van brandgevaar aangedui word.
Grondeienaars word herinner dat die tyd om brandbane te maak, besig is om uit te loop. ‘n Algehele brandverbod geld vanaf einde Julie tot einde Oktober wanneer die eerste reën val. Brandgevaar is veral gedurende Augustus hoog, en bepaal die brandverbod in terme van die Veld en Bosbrandwet, Wet 101 van 1998, dat jy gedurende ‘n brandverbod geen oop vuur kan maak en aan die gang hou, sonder die nodige toestemming nie.
‘n Beperking geld ook op die maak van voorbrande, en die brand van asgate.

Die Working on Fire span en individuele boere het vandeesweek met die oog op die brandverbod brandbane langs die R59 net verby die N1 oorbrug tot by die Parys-vliegveld gemaak.
Belangrik om te onthou is dat wanneer jy ‘n voorbrand wil maak, jy die nodige permit moet hê. Die permit moet uitgereik word deur die bandestrydingseampte in die betrokke gebied. Jy moet seker maak al jou bure dra kennis dat jy beoog om ‘n brandbaan te maak. Jy moet ook seker maak jy het al die nodige toerusting om die brand te beheer, en dat jy vooraf na die vuurindeks-voorspelling kyk.

‘n Blou-kode op die indeks beteken dat die gevaar vir brande gering is. ‘n Groen kode het ‘n lae brandgevaar en is beheerde brande nog toelaatbaar. ‘n Geel, oranje en rooi indekswaarskuwing dui egter op ‘n hoë moontlikheid van brandgevaar en word geen beheerde brande toegelaat nie.




