Krag: Ooreenkoms steeds nie geteken
Die Minister van Elektrisiteit en Energie (MoEE), Kgosientsho Ramokgopa, het vroeër ingegryp nadat Eskom kennisgewigs geplaas het van voorgenome optrede teen wantalende munisipaliteite.
Die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit en Eskom het steeds nie ‘n verspreidingsagentskapooreenkoms onderteken nie, maar die kragreus het vandeesweek weer bevestig dat konstruktiewe gesprekke tussen die twee partye onderweg is.
Die voorstel vir ondertekening van verspreidingsagentskapooreenkomste tussen Eskom en Vrystaatse munisipaliteite wat groot bedrae aan Eskom skuld, het in Februarie gekom na ingryping deur die Minister van Elektrisiteit en Energie (MoEE), Kgosientsho Ramokgopa, as ‘n poging om volhoubare oplossings vir munisipaliteite te vind wat elektrisiteitsverwante finansiële probleme ondervind.
Ramokgopa het toe finansieel-benoude munisipaliteite aangemoedig om by Eskom betrokke te raak in onderhandelinge, en te oorweeg om die aktiewe vennootskapooreenkomste te onderteken wat kan lei tot verspreidingsagentskapooreenkomste.
Die samesprekings met die minister was ‘n direkte uitvloeisel van publieke kennisgewings wat vroeër deur Eskom vir die Ngwathe-munisipaliteit sowel as die Nala, Moqhaka, Masilonyana en Nketoana Plaaslike Munisipaliteite geplaas is oor Eskom se voorgenome aksie weens die munisipaliteite se volgehoue wanbetaling. ‘n Soortgelyke publieke kennisgewing is ook op 29 Januarie vir die Mantsopa Plaaslike Munisipaliteit gepubliseer in ooreenstemming met die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid (PAJA).
Die inisiatief waaroor die minister in Februarie met die wanbetalende munisipaliteite na die kennisgewings in gesprek getree het, is ontwerp om munisipaliteite te help om hul dienslewering te verbeter deur Eskom se kundigheid in ingenieurswese, inkomste invordering en finansiële bestuur, te benut. Eskom sê hy het met onlangse verspreidingsagentskapooreenkomste gesien hoe dit daartoe kan bydra om elektrisiteitsverliese te bekamp, munisipaliteite se skuldgroeikoers te verminder, en beide diensgehalte en betalingsvlakke te verbeter.
‘n Verspreidingsagentskapooreenkoms is ‘n langtermynkontrak wat munisipaliteite met Eskom kan aangaan. Deur hierdie ooreenkomste verskaf Eskom verskeie dienste om die tegniese en finansiële kapasiteit van munisipaliteite te verbeter, om die volhoubaarheid van elektrisiteitsvoorsiening te verseker.
Eskom verduidelik ook dat hierdie dienste vaardigheidsontwikkeling en opleiding, meterinstallasie of vervanging, en inkomste-invordering namens munisipaliteite, kan insluit.
Om onderhandelinge verder aan te moedig, het Eskom 11 munisipaliteite in die provinsie vroeër formeel genooi om aan besprekings deel te neem. Hierbenewens het die departementshoof van die Vrystaatse Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (COGTA), Tshepiso Ramakarane, met Eskom en die ses munisipaliteite waarvoor kennisgewings gepubliseer is, in gesprek getree om die belangrikheid te beklemtoon daarvan dat oplossings gevind moet word wat vir al die betrokke partye voordelig sal wees.
Eskom het daarna in Maart sy finale besluit bekend gemaak wat voorgenome ontkoppeling van grootmaat kragvoorsiening aan die Vrystaatse munisipaliteite waaroor publieke kennisgewings geplaas was, eers op ys te hou terwyl gesprekke oor verspreidingsagentskapooreenkomste voortduur.



