Vrou val in oop stormwaterdrein
Die stormwaterdrein is al vir jare oop het inwoners van die omgewing bevestig.
Dit was al donker toe Annelise Moses en haar kollegas by die gastehuis reg by die rivieroewer in Parys aangekom het. Toe sy uitklim het sy die rivier gehoor – so ‘n mooi geluid, vertel Annelise. “Amper asof ek by die strand is.” Maar toe sy omdraai om oor die pad te stap na die gastehuis, gebeur die byna ondenkbare. Annelise het in ‘n oop stormwaterdrein op die sypaadjie in die Esplenade geval.
‘n Gat van 1,2 m diep.
Meer as twee weke later spook die trauma wat sy die aand van 24 Junie beleef het steeds by haar. Uit haar hospitaalbed in die Busamed Private Hospitaal vertel die Menslike Hulpbronbestuurder van Shoprite hoe sy en van haar kollegas vroeër die dag die Usave-takke in Kroonstad, Viljoenskroon en Vredefort besoek het. Hulle moes nog die Tumahole-tak besoek, maar dit het laat geword. Omstreeks 18:30 is hulle na die gastehuis.
Sy en haar kollega het aan die rivieroewer-kant stilgehou, en haar lynbestuurder aan die oorkant van die pad. Hulle sou inboek, en dan iets by ‘n restaurant gaan eet. Hoewel sy vantevore al in Parys was, was sy nog nooit in dié omgewing waar die gastehuis is nie. Boonop was daar geen straatligte wat gebrand het nie. In ‘n oogwink het die aand in ‘n nagmerrie verander.
Annelise se kollegas en die gastehuis-eienaar moes met ‘n leer probeer om haar uit die stormwaterdrein te kry. Daarna is sy per ambulans na ‘n nabygeleë Netcare-hospitaal vervoer en oornag gemonitor, en toe ontslaan. Maar als was nie pluis nie. Annelise het onbeskryflike pyn gehad. In haar tuisdorp, Bloemfontein, is sy die volgende dag in die Busamed-hospitaal opgeneem.



Dokters was verstom dat sy geen frakture gehad het nie, maar die kneusing aan sagte weefsel, snymerke en trauma het haar teen Vrydag al ‘n week in die hospitaal gehad. Sy sukkel om na die voorval die angswekkende ervaring te verwerk, sê die ma van ‘n matriekseun. “Ek slaap nie in die aand nie,” vertel sy oor wat sy beskou as growwe nalatigheid van die munisipaliteit van dié mooi dorpie waarvoor sy nog altyd so lief was.



Gazette het in Maart vanjaar ook berig oor twee vroue van Parys se pynlike stryd nadat hulle op sypaadjies in die dorp geval het.
Die 81-jarige Lehane Rothman het in Februarie in Phillipstraat op ongelyke sypaadjie-plaveistene geval en verskeie frakture opgedoen met onder meer beserings aan haar skouer, arm, heup en bekkenbeen.
In Oktober 2024 het Marie van Eeden in Middelstraat op die sypaadjie geval en haar ligamente en tendon van haar voet geskeer.
Volgens prokureur Mari Meyer is ‘n munisipaliteit volgens munisipale wetgewing en onderhewig aan die konstitusie, verantwoordelik vir die lewer van basiese dienste deur die skep van nuwe infrastruktuur, en onderhoud van bestaande infrastruktuur.
Daar is gevolglik ‘n regsplig op ‘n munisipaliteit om skade te voorkom, en sorg te dra dat infrastruktuur, wat ook mangate en stormwaterkanale insluit, onderhou word, des te meer waar die publiek die spasie gebruik soos op sypaadjies.
Judith van Niekerk wat vir jare in die Esplenade woon, sê dat dié spesifieke stormwaterdrein solank sy kan onthou al oop is. Ander inwoners van die omgewing het dit ook bevestig. ‘n Foto op Google Maps wat in 2016 geneem is, wys egter die sementblokke waarmee die drein vroeër bedek was.
Die dooie straatligte is vergeefs al in die verlede gerapporteer, sê inwoners van die Esplenade-omgewing. Die voorval is onder die Ngwathe-munisipaliteit se kommunikasie-afdeling se aandag gebring, en sal kommentaar gepubliseer word sodra dit ontvang word.



