Local newsNews

Vonke spat vir wêreldrekord-massabraai

’n Splinternuwe, nie-amptelike wêreldrekord is Woensdag opgestel toe 2 300 skaaptjops (320 kg) gelyktydig op 52 braaiers gebraai is. Die kole het oor ’n afstand van 55 meter gestrek en elke braaier is deur ’n vrywilliger beman. Dit het sowat twee uur geneem om elke tjoppie perfek en sappig gaar te maak, waarna al die …

’n Splinternuwe, nie-amptelike wêreldrekord is Woensdag opgestel toe 2 300 skaaptjops (320 kg) gelyktydig op 52 braaiers gebraai is. Die kole het oor ’n afstand van 55 meter gestrek en elke braaier is deur ’n vrywilliger beman.

Dit het sowat twee uur geneem om elke tjoppie perfek en sappig gaar te maak, waarna al die vleis geskenk is aan kinderhuise, tehuise vir bejaardes en behoeftige gesinne in die omgewing.

“Elke tjoppie wat gebraai is, het op iemand se bord beland. Niks is gemors nie. Die vonke en kole was net die begin van iets groter, en dit sou nie moontlik gewees het sonder die Buffelsfontein-groep in samewerking met HelpJag nie,” sê Margolé Riekert, hoof van projekte by Solidariteit Helpende Hand en HelpJag.

Volgens Meyer le Roux, medestigter van die Buffelsfontein-groep, was die idee eenvoudig om te wys wat moontlik is wanneer gewone mense saamstaan. “Dis een van daai idees wat reg voor jou neus is. As jy 2 000 tjops kan braai, dan kan jy 1 000 kinders voed. Ons is altyd op soek na maniere om saam met Helpende Hand werklik ’n verskil te maak, en hierdie keer het dit ’n lekker geurige een geword.”

“Hierdie inisiatief pas perfek in by die doel van HelpJag, en dit is om voedselsekerheid in Afrikaanse gemeenskappe aan te spreek op maniere wat sin maak,” sê Riekert. “HelpJag is een van Helpende Hand se hoofprojekte, waar jagters en boere wildsvleis skenk wat dan verwerk en versprei word na skole, ouetehuise en ander instellings waar vleis ’n luuksheid is. Op die oomblik voed HelpJag, saam met Helpende Hand se Kosblikkie-projek, daagliks sowat 8 000 kleuters in 89 skole landswyd.”

Die rekordbraai het plaasgevind by Ons Plek Derdepoort in Pretoria, waar Helpende Hand al jare lank werk om ’n veilige, verrykende kleuterskool- en naskoolomgewing te skep. Die sentrum ondersteun leerders van graad R tot graad 12 vanaf verskeie omliggende skole en is juis gestig om kinders ’n plek te bied waar hulle kan leer, groei, ontwikkel en daagliks ’n voedsame bord kos ontvang.

“Vir baie kinders is skool die enigste plek waar hulle iets eet,” sê Riekert. “Wanneer skole sluit in vakansietye, is daardie ondersteuning dikwels ook weg. Dít is waarom aksies soos hierdie só belangrik is. Dis meer as net ’n lekker dag, dit vul ook honger magies.”

Meyer le Roux van die Buffelsfontein-groep tydens die braaipoging.

Le Roux glo dit moet nie die einde van die braaistorie wees nie. “Voor vandag was daar nie ‘n rekord vir die meeste skaaptjops wat op een slag gebraai is nie. Ek wil ander instansies en gemeenskappe uitdaag om hierdie rekord te breek. Kom braai 3 000 tjoppies. Of 4 000. En voed nóg mense. Dis nie ’n kompetisie nie, dis ’n uitnodiging. Kom wys wat julle kan doen. Want as daar een ding is wat ek weet, is dit dat Suid-Afrikaners nie terugstaan vir ’n kole-uitdaging nie.”

Studente van Sol-Tech het gehelp om die 2300 tjops te braai.

Daar word reeds planne beraam om soortgelyke massabraaitogte landwyd aan te bied.

Vir meer inligting oor HelpJag, of om jou eie rekordbraai te reël om hongersnood te beveg, besoek www.helpjag.co.za of www.kosblikkie.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button