DA soek antwoorde oor kraamsaal
Die Vrystaatse Departement van Gesondheid het vroeër aangedui hy is besig om die situasie aan te spreek.
Die Demokratiese Alliansie (DA) het aangedui dat hy vrae by die LUR vir Gesondheid, mnr. Mahlatsi, gaan indien, nadat die kraamsaal van die Nasionale Hospitaal in Bloemfontein op 11 Julie gesluit moes word, en pasiënte na die Pelonomi-hospitaal verwys moes word.
Die 21-bed kraamsaal is gesluit na ‘n verbodkennisgewing deur die Departement van Arbeid en Indiensneming weens lae temperature in die saal.
Die DA sê dit wek ernstige kommer oor diensbeskikbaarheid, pasiëntekapasiteit en die impak op verwagtende moeders.
In 2024 het ’n brand in die hoofkraamsaal uitgebreek, wat ook tot sy sluiting gelei het.
Die DA sê hy wil antwoorde by die LUR hê oor wat gedoen gaan word om ‘n funksionele kraamsaal by die hospitaal te verseker, hoe lank die saal gesluit sal wees, en ook hoe die departement beplan om die impak op dienste by oorlaaide hospitale soos Pelonomi te versag.
Mondli Mvambi, woordvoerder van die Departement van Gesondheid in die Vrystaat het vroeër gesê die hospitaal het begin om laerisiko-gevalle na MUCPP oor te plaas, terwyl hoërisiko-kraamgevalle by die Pelonomi Tersiêre Hospitaal hanteer sal word.
Mvambi het ook gesê departement is besig om die situasie aan te spreek



