Maatskaplike sektor: Uitwys van krisisse nie meer genoeg nie
'Volhoubare transformasie is net moontlik as gemeenskappe saamwerk.'
Daar moet ‘n duidelike verskuiwing van die blote uitwys van krisisse wees na gefokusde toekomsbou en selfstandige optrede in die maatskaplike sektor. Kundiges, gemeenskapsorganisasies en ander belanghebbendes het tydens Solidariteit se Maatskaplikewerkersnetwerk, en Solidariteit Helpende Hand se Toekomsberaad gesprek gevoer oor die pad vorentore vir die maatskaplike sektor, met die bekendstelling van sy Toekomsplan.
Met die tema, “Van krisis na toekoms: Die maatskaplike sektor neem beheer” is die plan daarop gerig om n nuwe rigting vir maatskaplike ontwikkeling in Suid-Afrika te bepaal. Die Toekomsplan bevat ‘n strategie met konkrete aanbevelings en uitvoerbare stappe om die sektor te hervorm en versterk. Die plan spreek ook kernuitdagings aan soos wetgewende raamwerke, befondsingsmodelle, dienslewering en beroepseer.
Dit bevat kort-, medium- en langtermyndoelwitte wat daarop gerig is om groter selfstandigheid, doeltreffendheid en professionele integriteit in die sektor te
bewerkstellig.
Volgens Bianca Smit, netwerkkoördineerder van Solidariteit se Maatskaplikewerkersnetwerk, lê die kern van die plan in gemeenskapsgedrewe verantwoordelikheid. “Ons wag nie meer op die staat nie. Ons neem self die leiding – vir ons gemeenskappe, deur ons mense, volgens ons plan, sê Smit.
Smit het benadruk dat volhoubare transformasie slegs moontlik is indien gemeenskappe self betrokke raak.
Die plan bevat verskeie sleutelinisiatiewe, waaronder:
• die vestiging van n nasionale regsadviesplatform vir maatskaplike werkers;
• die ontwikkeling van selfstandige befondsingsmodelle deur middel van maatskaplike
entrepreneurskap;
• die verbetering van dienslewering deur middel van gekoördineerde opleiding, die
optimalisering van strukture en tegnologiese innovasie; en
• die bevordering van beroepseer met mentorskapprogramme en doelgerigte
bewusmakingsveldtogte wat veral gemik is op jong beroepslui.
Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, het die beraad en
bekendstelling van die Toekomsplan beskryf as ‘n keerpunt in die manier waarop die
gemeenskap krisisse benader.”Die bedoeling was ‘n beraad van hoop, ‘n beraad wat sê daar ís ‘n toekoms. Ons moet daarnatoe werk. Dit gaan nie vanself kom nie. Ons is nie aangewese op iemand anders nie. Ons kan nie wag vir die antwoorde nie; ons moet dit gaan haal,” sê Noëth.
Verlede jaar het ons 67 krisisse geïdentifiseer. Hierdie jaar het ons begin om planne te beraam om dit op te los. Dit is nie kitsoplossings nie, maar dit is planne wat hoop en rigting gee,” het Noëth bygevoeg.
Hy het verder benadruk dat die beraad nie ‘n kla-sessie was nie, maar ‘n strategiese, doelgerigte poging om oplossings te soek. “Ons leef in uitdagende tye, ja, maar dit is nie uniek nie. Elke era het sy storms. Ons moet ophou om probleme aan die volgende geslag oor te dra. Daar is nie maklike antwoorde nie, maar daar ís antwoorde. Ons het die vermoë, die geskiedenis en die roeping om dit te vind.”
Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het die rol van gemeenskappe en die belangrikheid van maatskaplike werkers beklemtoon.
“Maatskaplike werkers is die ‘binders’ wat gemeenskappe versterk en byeen hou. ‘n Gemeenskap wat bind, is sterk, soos ‘n driedubbele tou – dit breek nie maklik nie. Diensbaarheid, ondersteuning en lojaliteit is die drade wat gemeenskappe inmekaarvleg en maatskaplike werkers is die binders.”
Hermann het daarop gewys dat die verval van staatsverantwoordelikheid ‘n gevaarlike werklikheid is, maar dat dit ook ‘n geleentheid bied vir gemeenskappe om self verantwoordelikheid te neem. Waar baie mense bekommerd is oor die toekoms van maatskaplike werk te midde van die onttrekking van staatsubsidies, breek daar nou ‘n nuwe era aan. Dit is n era van gemeenskappe wat bind. Maatskaplike werkers is bedoel vir tye soos dié.”
Hy het benadruk dat oplossings nou vanuit gemeenskappe self moet kom. Die Solidariteit
Maatskaplikewerkersnetwerk is juis geskep as ‘n ruimte waar dié binders bande kan bou, beste praktyke kan deel en kennis en tegnieke aan jonger kollegas kan oordra.



