Hamer-aanval: 34-Jarige vasgetrek
Die man wat gearresteer is sal môre voor die landdroshof in Bothaville verskyn.

Terwyl ‘n 60-jarige vrou van Bothaville steeds in ‘n Welkomse hospitaal herstel na ‘n geweldadige aanval in haar huis toe sy herhaaldelik met ‘n hamer geslaan en verkrag is, is ‘n 34-jarige man uiteindelik gister deur die polisie met die hulp van plaaslike AfriForum Buurtwag-lede in die Kgotsong-woonbuurt buite Bothaville in hegtenis geneem.
Sers. Palesa Thabana het bevestig dat die man môre in die Bothaville-landdroshof sal verskyn op klagte van moord en verkragting.
Die aanval het Saterdag 26 Julie net na 11:00 gebeur. Die vrou was vroeër die oggend nog by ‘n kerk en ouetehuis naby haar woning. Toe sy later tuiskom het sy deur die huis gestap en toe die agterdeur oopgemaak waar sy deur haar aanvaller oorval en drie keer met ‘n hamer oor die kop geslaan is. Net haar selfoon is gesteel, het die polisie vroeër gesê.
Die ernstig beseerde vrou kon daarin slaag om na haar man se werk te ry waar sy inmekaar gesak het. Sy is aanvanklik na die Nala-hospitaal in Bothaville geneem, en toe per ambulans na die Mediclinic-hospitaal in Welkom vervoer waar ‘n noodoperasie op haar gedoen is.
Die polisie het na die voorval beslag gelê op die hamer wat vermoedelik in die aanval gebruik is.
AfriForum buurtwaglede het sedert die aanval onverpoosd leidrade opgevolg, en het die buurtwagleier, Dolf Meyer, in reaksie op ’n radioberig vir inligting in verband met die saak, kontak gemaak met die Welkomse eenheid vir Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Misdrywe wat die ondersoek lei.
Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, het na gister se inhegtenisname gesê dat die burgerregte organisasie oortuig is daarvan dat elke vrou in Bothaville baie dankbaar is teenoor Meyer en die res van die buurtwag wat hom ondersteun het, en wat nie bereid was om hierdie saak te laat gaan nie. “Dit is ook goed om te hoor dat die slagoffer vordering wys op haar herstelpad”, het sy gesê, en bygevoeg dat die hoop is dat geregtigheid sal geskied.



